On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Verkoopsagente gevra om biosekuriteitsmaatreëls na te kom

───   13:28 Mon, 23 Sep 2024

Bek-en-klouseer: Verkoopsagente gevra om biosekuriteitsmaatreëls na te kom | News Article
Foto: Getty Images

“Terwyl daar begrip is vir die noodsaaklikheid dat verkoopsagente hul besigheid moet doen, hou hierdie besoeke ’n beduidende biosekuriteitsrisiko in.”

Die departement van landbou en die direktoraat van dieresondheid is bekommerd oor berigte dat verkoopsagente van landboumaatskappye plase binne en buite die siektebestuursgebied besoek te midde van die huidige uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap.

“Terwyl daar begrip is vir die noodsaaklikheid dat verkoopsagente hul sake moet doen, hou hierdie besoeke ’n beduidende biosekuriteitsrisiko in,” sê die departement in ’n verklaring. 

“Alle landboumaatskappye en hul agente word aangespoor om alternatiewe metodes van kliëntbetrokkenheid te oorweeg, soos virtuele vergaderings, telefoonoproepe of ander kontaklose maniere om die risiko van siekteoordrag te verminder.

Samewerking uiters belangrik

“Waar persoonlike besoeke onvermydelik is, is dit noodsaaklik dat daar streng aan biosekuriteitsprotokolle voldoen word. Boere word ook daaraan herinner dat hulle die verantwoordelikheid het om streng biosekuriteitsmaatreëls af te dwing vir alle besoekers.”

Volgens die departement is samewerking met alle rolspelers van uiterste belang. Bek-en-klouseer is ’n beheerde dieresiekte ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet No 35 van 1984), wat sekere beheermaatreëls vereis, soos isolasie en bewegingsbeperkings, wat deur die veeartsenydienste toegepas word.

Biosekuriteit en risikoverminderings aanbevelings:

  • Toegangbeheer: Stel streng besoekersprotokolle in wat reinigings- en ontsmettingsprosedures, vereistes vir beskermende klere en beperkte toegang tot veekampe moet insluit. Hou ’n daaglikse besoekersregister by, insluitend die laaste kontak met vee.
  • Voertuig- en toerustingontsmetting: Verseker alle voertuie en toerusting wat die perseel binnekom en verlaat deeglik skoongemaak, en ontsmet word. As ’n bykomende maatreël, spuit die wiele en onderstel van veewagmotors.

Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid se tegniese siektekaart vir bek-en-klouseer beveel die volgende aktiewe bestanddele aan vir virusinaktivering:

  • Natriumhidroksied (2%)
  • Natriumkarbonaat (4%)
  • Soutsuur (0.2%)
  • Asynsuur (2%)
  • Natriumhipochloriet (3%)
  • Kaliumperoksomonosulfaat/natriumchloried (1%)
  • Chloordioksied

Konsulteer met jou verskaffer vir meer inligting. Slegs geregistreerde produkte moet gebruik word. Gegewe die huidige risiko van bek-en-klouseer, moet die inligting op die produk spesifiseer dat dit geregistreer is vir die inaktivering van die virus.

  • Samewerking met veeartsenydienste: Werk nou saam met veeartsenydienste om enige vermoedelike gevalle te rapporteer en om beheermaatreëls in ooreenstemming met nasionale regulasies en riglyne toe te pas.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.