On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Agriculture

Sojasukses verg beplanning en toewyding

───   ROBYN SCHUTTE 11:28 Tue, 06 Aug 2024

Sojasukses verg beplanning en toewyding | News Article
Produsente moet optimale opbrengs en winsgewendheid balanseer. Foto: iStock

“Die sleutel tot die beskerming van opbrengs is om stremmingsfaktore wat bestuur of gemanipuleer kan word, te verminder.”

In Augustus 2023 het Alex Harrell van die Amerikaanse deelstaat Georgia die beste soja-oes in die geskiedenis van landbou aangeteken met ’n opbrengs van 13,9 ton per hektaar. Dit het die vorige wêreldrekord verbeter van Randy Dowdy, ook van Georgia, wat in 2019 opgestel is.

Harrell se rekord is aangeteken in die Amerikaanse ekwivalent van Suid-Afrika se Groei vir Goud-kompetisie, wat jaarliks deur Graan SA aangebied word. Hierdie prestasie toon wat moontlik is met die regte tegnieke en toewyding.

In Suid-Afrika het Jan van Heerden van Hartswater ’n plaaslike rekord van 6,668 ton per hektaar onder besproeiing in Augustus 2023 opgestel. So ’n hoë opbrengs is nie prakties haalbaar oor duisende hektaar nie. Produsente moet optimale opbrengs en winsgewendheid balanseer wat slegs bereik kan word deur ’n balans tussen insetkoste en opbrengs te handhaaf.


Hanlie Geldenhuys, rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika, sê dat die basiese beginsels belangrik bly om gewaspotensiaal te beskerm en maksimale opbrengs te realiseer – veral ná ’n moeilike, droë seisoen. Die sleutel tot die beskerming van opbrengs is om stremmingsfaktore wat bestuur of gemanipuleer kan word, te verminder.

Die basiese beginsels vir maksimum opbrengste sluit in grondvoorbereiding, die plantproses, kultivarkeuses en die gebruik van goeie gehalte saad met die regte saadbehandeling om ’n perfekte stand te bereik. Goeie ontkieming en sterk saailinge vorm die basis van enige oes.

Klimaat en klimaatverwante faktore bepaal ongeveer 70% van ’n gewas se opbrengs. Die oorblywende 30% kan optimaal bestuur word deur praktiese stappe soos die gebruik van verskillende groeilengtes, variëteite, plantdatums, en plantpopulasies. Begrip van die sojaboonplant se groei en ontwikkeling help ook om beter bestuur te verseker.

Onkruidbeheer is van kritieke belang vroeg in die lewe van ’n sojaplantjie. Onkruidkompetisie kan opbrengsverliese tot 50% veroorsaak en daarom is ’n geïntegreerde onkruidbestuursprogram noodsaaklik. Dit sluit in die identifisering van die probleemonkruidspektrum en die gebruik van die regte produkte op aktief groeiende onkruide.

Insekbeheer speel ook ’n groot rol in die beskerming van graan se gehalte en opbrengste. Grondinsekte wat saailinge aanval, kan plantestand verminder. Saadbehandelings en insekdoders is van kardinale belang vroeg in die groeiseisoen. Gespesialiseerde produkte met langer nawerking kan later in die seisoen gebruik word om plae soos bolwurms te beheer.

‘Saadbehandelings en insekdoders is van kardinale belang’

Die produksie van sojabone neem toe in Suid-Afrika, grootliks vanweë die voordele van wisselbou, laer insetkoste in vergelyking met mielies en die toenemende vraag na sojaboonprodukte wat pryse en winsgewendheid verhoog. Sojabone het ook ’n gunstige risikoprofiel met minder vatbaarheid vir sekere plae en siektes wat dit ’n betroubare gewas vir produsente maak.

“Daar is nog baie om te leer oor sojabone en hoewel die rekordopbrengste van die Amerikaners ’n uitdaging is, bied dit ’n motivering om produksietegnieke te verbeter en die potensiaal van hierdie waardevolle gewas te maksimeer,” sê Geldenhuys.

OFM Agri/Robyn Schutte dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.