On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA vra nuwe kabinet om op ekonomiese groei te fokus

───   15:04 Mon, 01 Jul 2024

TLU SA vra nuwe kabinet om op ekonomiese groei te fokus | News Article
Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder,. Foto: TLU SA

“Dit is van uiterste belang om duidelikheid te kry oor hoe kwessies soos onteiening sonder vergoeding hanteer gaan word.”

TLU SA wens die nuut aangestelde ministers geluk en spreek die hoop uit dat hul termyn positiewe veranderinge en ’n hernude fokus op die kritieke kwessies in Suid-Afrika sal bring.

President Cyril Ramaphosa het Sondagaand (30/6) sy nuwe kabinet aangekondig as deel van die nuwe regering van nasionale eenheid.  Hy het onder meer aangekondig dat die DA-leier  John Steenhuisen as minister van landbou sal dien met die ANC se Rosemary Capa steeds as die adjunkminister. Voortaan sal die Ministerie van Landbou geskei wees van die Ministerie van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling wat nou die PAC se Mzwanele Nyhontso aan die stuur het met die ANC se Chupu Mathabatha as sy adjunkminister.

“In hierdie uitdagende proses met uiteenlopende partye en verskille in beleidsbenaderings is dit belangrik om te sien watter koers die kabinet gaan inslaan in die beste belang van die land se mense,” meen Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

“TLU SA wil veral vir John Steenhuisen, wat as minister van landbou aangewys is baie sterkte toewens. Ons sal van ons kant af dinamies met hom saamwerk om te verseker dat die landbou-omgewing effektief sal funksioneer.”

Van Zyl beklemtoon dat Suid-Afrikaners tot nou toe grondsake ervaar het as ’n ideologies gedrewe portefeulje, terwyl landbou ’n ekonomiese portefeulje is. “Nou is die twee geskei. In hoe ’n mate die twee departemente sal saamwerk, terwyl Suid-Afrikaners moet eet, is van groot belang. Daarom behoort landbou voorkeur te kry vir volhoubare voedselproduksie.”

‘Dit is van belang om duidelikheid te kry oor onteiening’

TLU SA doen ’n beroep op die nuwe kabinet om die uiteenlopende beleidsomgewings en sienings van die verlede rondom die regte beginsels te versoen en seker te maak dat die nodige vertroue verkry word vir beleggings sodat die ekonomie kan groei. “Dit is van uiterste belang om duidelikheid te kry oor hoe kwessies soos onteiening sonder vergoeding hanteer gaan word. Landbou speel wel ’n sentrale rol, maar verskeie ander ministeries soos polisie, arbeid, water, omgewingsake, handel en nywerheid, energie, finansies en ander het ook ’n direkte invloed op die landbousektor. Dit is noodsaaklik dat hierdie departemente gesamentlik werk om ’n gunstige omgewing vir die landbougemeenskap te skep.”

Van Zyl vra egter met wie se beleidsraamwerk sal daar saamgewerk word? “Sal die beginsels van swart ekonomiese bemagtiging en transformasie en die manier waarop dit toegepas is, steeds ’n prioriteit wees? Sal die gesentraliseerde sosialistiese model met ’n kommunistiese stropie steeds die uitgangspunt wees, of sal markgerigte ekonomiese beginsels meer klem geniet? Om beleggersvertroue te herstel, moet daar ’n sterk fokus wees op die bevordering van ekonomiese groei.”

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.