On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA verwelkom Steenhuisen se aanstelling

───   14:37 Mon, 01 Jul 2024

AgriSA verwelkom Steenhuisen se aanstelling | News Article
Johann Kotzé, AgriSA se uitvoerende hoof. Foto: Skermgreep

AgriSA het die aanstelling van die leier van die DA, John Steenhuisen, as die minister van landbou verwelkom.

“Ons sien uit na ’n samewerkende en produktiewe verhouding om die landbousektor in Suid-Afrika te bevorder. Hierdie aanstellings kom op ’n kritieke tydstip en ons is vol vertroue dat die landbousektor onder hierdie ministers se leierskap sal floreer en steeds 'n hoeksteen van die nasionale ekonomie sal wees,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.

President Cyril Ramaphosa het Sondagaand sy nuwe kabinet aangekondig waarin die DA-leier  John Steenhuisen as minister van landbou sal dien. Die  ANC se Rosemary Capa bly aan as die adjunkminister. Voortaan sal die ministerie van landbou ook geskei wees van die ministerie van grondhervorming en landelike ontwikkeling wat nou die PAC se Mzwanele Nyhontso aan die stuur het met die ANC se Chupu Mathabatha as sy adjunkminister.

Kotzé sê AgriSA is daartoe verbind om sy rol te speel in die ondersteuning van die nuwe regering van nasionale eenheid deur aktief met alle belanghebbendes te skakel om ’n samehangende en samewerkende benadering te bevorder om die sektor se uitdagings die hoof te bied.

“In ooreenstemming met hierdie verbintenis is ons daarop gefokus om drie kritieke areas aan te pak wat noodsaaklik is vir die welstand en voorspoed van ons land.”

  • Eerstens erken AgriSA die belangrikheid daarvan om voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker. Deur landbouproduktiwiteit, volhoubaarheid en winsgewendheid te verbeter kan ons bydra tot sosiale stabiliteit oor die land heen.
  • Tweedens is die landbou ’n sleutelbydraer tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. “Ons is toegewyd daaraan om met die regering saam te werk om die mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou op ’n wêreldskaal te verbeter, uitvoer te verhoog en nuwe markte te open.”
  • Derdens is volhoubare landbou noodsaaklik vir die behoud van ons omgewing. “AgriSA is daartoe verbind om beleide en praktyke te bevorder wat ons natuurlike hulpbronne beskerm en verbeter om die beskikbaarheid daarvan vir toekomstige geslagte te verseker.”

AgriSA het Thoko Didiza bedank vir haar ondersteuning. Foto verskaf

Kotzé het sy dank uitgespreek teenoor Thoko Didiza, die uittredende minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, vir haar volgehoue ondersteuning en begrip van die landbousektor. “Haar pogings om sterk verhoudings met georganiseerde landbou te handhaaf was van onskatbare waarde. Onder haar leiding het ons aansienlike vooruitgang en ’n versterkte samewerking tussen die regering en die landbougemeenskap gesien. Ons wens haar alle sterkte toe in haar amp as Speaker en bedank haar vir haar toegewyde diens en die positiewe invloed wat sy gemaak het.”

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.