Agriculture
Klimaatsverandering: Verantwoordelikheid lê ook by produsente─── ELZETTE BOUCHER 13:54 Tue, 14 May 2024
“Die gaan nie ’n towerdoepa wees nie, maar als kom neer op die produsent se verantwoordelikheid op die plaas, of by die slagpale, die voerkraal.”
Produsente kan nie van die realiteit van klimaatsverandering wegskram nie. Voedselsekerheid, biosekuriteit en volhoubare en winsgewende produksie loop hand aan hand.
In vandag (14/5) se eerste Nasie in Gesprek-paneelbespreking by Graan SA se NAMPO Oesdag, het Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, gesê landbouers het nie nog reëls en wetgewing nodig om verantwoordelik te boer nie.
Hy meen samewerking tussen die regering, al die bedrywe en boere is nodig om klimaatsverandering die hoof te bied.
“Suid-Afrika se politieke omgewing is egter veel meer kompleks as wat mens geneig is om te glo. As jy na die mark kyk is voedselsekerheid en biosekuriteit van uiterste belang. Dit gaan oor volhoubaarheid op ’n ander vlak binne die voedselstelsel.”
Kotzé beklemtoon Suid-Afrika moet erken dat ons ’n landbousamelewing is, ongeag of ons bedryf groot of klein is. Daar behoort nie onderskeid getref te word tussen ’n bestaans- en ’n megaboer nie. Dit gaan eerder daaroor of die produk aan biosekuriteitsmaatreëls voldoen.
“Hoe die rooivleisbedryf die markte na die Midde-Ooste geopen het, is merkwaardig en dit kan as ’n prototipe vir ander bedrywe gebruik word. Die regerings het lank met mekaar geworstel, maar die bedrywe het mekaar verstaan. Toe biosekuriteit bewys kon word, het die mark oopgegaan.”
Dewald Olivier van RMIS tydens die paneelbespreking. Foto: OFM
Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Red Meat Industry Services (RMIS), sê die konsep van “One Health” het geweldig belangrik geword.
“Die onderlinge verbondenheid tussen mense en diere is ’n werklikheid. Veral as jy kyk na die effek wat voëlgriep op die wêreld en plaaslik gehad het.” Olivier sê diere sal altyd met siektes kom wat beheer moet word en dat mens nooit oorgerus kan wees nie.
“Naspeurbaarheid in ons bedryf is aan die een kant baie belangrik, maar het aan die ander kant ook ’n swetswoord geword. Die gaan nie ’n towerdoepa wees nie, maar als kom neer op die produsent se verantwoordelikheid op die plaas, of by die slagpale, of die voerkraal. My lewendehawe, my verantwoordelikheid.”