On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Lesotho-Hoogland-waterprojek: Maande se sluiting wek kommer

───   ROBYN SCHUTTE 07:44 Mon, 22 Apr 2024

Lesotho-Hoogland-waterprojek: Maande se sluiting wek kommer | News Article
Die Lesotho-Hoogland-waterprojek. FOTO: TCTA

“Die boere het alreeds hul eie damme probeer bou om water beskikbaar te maak vir besproeiing, maar besproeiing oor die algemeen word baie ernstig geaffekteer.”

Die aankondiging van die beplande sluiting van die Lesotho-Hoogland-waterprojek vir ses maande – vir tegniese onderhoud – wek kommer, veral onder gemeenskappe en produsente in die Oos-Vrystaat.

 “Ons is uiters bekommerd," vertel die skakelbeampte van die Mafube besigheidsforum, Jacques Jansen van Vuuren.

"Op hierdie stadium word daar 20 000 liter water per sekonde vrygestel uit die Lesotho-Hoogland-skema. Dit vloei langs die Liebenbergsvleirivier en eindig in die Wilgerivier naby Frankfort, vanwaar dit dan vloei in die Vaaldam. As ons geen verdere toevloei kry nie, in ag genome die uiterste swak reënseisoen wat ons gehad het, is daar ernstige probleme."

Die Mafube-distrik wat vier dorpe in sy munisipaliteit insluit – Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia – ervaar reeds die druk van swak watertoevoer. “Tweeling is reg langs die Liebenbergsvleirivier en hulle is uiters afhanklik van ’n volhoubare vloei langs daai rivier. Water word direk uit die rivier getrek, en as daar nie water beskikbaar is nie, met ’n groeiende gemeenskap, gaan ons groot probleme hê,” het Jansen van Vuuren gewaarsku.

Die impak van die projek se sluiting sal ook die landboubedryf in die Mafube-distrik raak. Boere wat afhanklik is van besproeiing uit die Liebenbergsvleirivier sal ernstige uitdagings ervaar. “Die boere het alreeds hul eie damme probeer bou om water beskikbaar te maak vir besproeiing, maar besproeiing oor die algemeen word baie ernstig geaffekteer,” meen Jansen van Vuuren.

 “Dit gaan ons geweldig affekteer, vernaam as ons weer ’n droë jaar het soos die jaar wat verby is,” vertel Hans Pretorius, ’n boer van die distrik. "Daar gaan beslis waterbeperkings ingestel word, glo op alle besproeiingsboere wat water trek uit die Vaaldam uit.”

Pretorius deel sy kommer oor die moontlike impak op die Mafube-distrik en sy produsente, en waarsku oor die ernstige probleme wat die gebrek aan watertoevoer kan veroorsaak.

“Ongeag of die Lesotho-skema werk, en of hy nie werk nie, gaan dit met beurtkrag ‘n astronomiese uitwerking op ons hê omdat ons vir droë land sal moet plant en dan maar net besproei wanneer die gewasse in ’n kritieke stadium is. Ons sal definitief nie vir ’n volle besproeiingsopbrengs kan plant nie.”

Om die impak van die projek se sluiting te versag, is proaktiewe beplanning en samewerking noodsaaklik. Publieke bewusmakingsveldtogte oor die behoefte om water te bespaar, asook noodplanne vir die voortsetting van watervoorsiening tydens die sluitingsperiode, is van kardinale belang. Die Departement van Water en Sanitasie moet saamwerk met die betrokke munisipaliteite om ’n strategiese plan te implementeer wat ’n voortgesette watertoevoer vir die distrik waarborg.

OFM/Agriculture cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.