Agriculture
Kommer oor Vaalrivier se siek visse─── KAREN VAN DER BERG 16:06 Tue, 17 Oct 2023
Visse met sere wat lyk asof hulle melaats het en wat deur hul skubbe bloei, wek groot kommer.
’n Groot ekologiese ramp weens siek visse dreig om in die Vaalrivier af te speel. Dit sal ernstige gevolge vir die hele omgewing inhou. Visse met sere wat lyk asof hulle melaats het en wat deur hul skubbe bloei wek groot kommer.
André Pietersen (55), ’n inwoner van Vanderbijlpark wat al 32 jaar lank hier hengel, sê daar is groot rede tot kommer oor die visse se toestand en hy doen ’n dringende beroep op mense om kundiges te help om die situasie te ontleed en te probeer ingryp.
Hy sê die visse wat so sleg lyk, word al die afgelope ses jaar opgemerk. Foto’s wat ’n bekommerde hengelaar onlangs aan Vaalweekblad gestuur het, het hom egter laat besef drastiese ingryping is nodig. “Daar word al ’n geruime tyd gesê dit is rioolvuil wat verantwoordelik is vir die visse se slegte toestand. Maar ons weet nou, dit is meer as net rioolvuil.” Veral karpe, babers en moddervisse word geraak.
“Dit is beslis ’n baie slegte ding vir ons wat die natuur liefhet. En een van die groot probleme wat as gevolg hiervan ontstaan, is dat sowat 90% van die visse vrek wat jonger as een jaar oud is.”
Die siek visse in die Vaalrivier kan lei tot ’n ekologiese ramp. Foto verskaf
Pietersen het die hulp van dr. Mariska Laubscher, ’n wetenskaplike van Greenhills-laboratoriums in Kaapstad ingeroep. Sy en dr. Guguletho Moyo, ’n staatsveearts van Johannesburg, werk saam om die probleem te ondersoek. Laubscher sê daar is beslis rede tot kommer.
“Die feit dat daar so baie gevalle aangeteken is op verskeie plekke dui daarop dat die probleem nie net in een gebied nie, maar in ’n groot gedeelte van die Vaalrivierstelstel voorkom. ’n Groot gedeelte van die visbevolking en hul direkte omgewing word geraak.”
Sy sê die watergehalte kan ’n rol speel maar dit is nie die enigste faktor nie.
Siek visse kom in ’n groot gedeelte van die Vaalrivierstelsel voor. Foto verskaf
“Wanneer die omgewingsfaktore verander, soos die gehalte van die water en temperature, raak die gasheer meer vatbaar vir sekere siektes, of patogene. Daarteenoor kan dieselfde omgewingsfaktore veroorsaak dat die patogene opvlam en vinnig vermeerder.”
Daar is ’n redelike groot gebied waar beide die faktore weer sal kan herstel en terug keer na normaal, maar daar is natuurlik ’n drumpel ook. “Sodra faktore die drumpel oorsteek, beïnvloed dit die wanbalans van die omgewing.”
Laubscher sê dit lyk soos siektes wat deur ’n patogeniese agent veroorsaak word. Moyo het monsters geneem van die vars vis en dit sal deur verskeie laboratoriums ontleed word.
Sy sê hengelaars se taak nou is om te help met die kliniese simptome. Eerstens moet hulle foto’s neem van die siek visse en die presiese ligging gee waar hulle gevang is.
André Pietersen vertel die visse is al ses jaar so siek en oplossings moet gou gevind word. Foto verskaf
“Alle hengelaars moet ook werk tot verbetering en moet al hul hengelgerei skoonmaak voordat hulle by ’n nuwe plek vis vang. Hoewel daar nog nie ’n groter plan is nie, kan elkeen reeds begin om hul bydrae so te lewer.”
Enigeen wat graag wil help met foto’s en die presiese ligging van die visse kan Pietersen by 079 971 0728 bel.