On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Ondersoekprojek slaan veediefstal hok in Vrystaat

───   ELSABÉ RICHARD 10:14 Mon, 25 Sep 2023

Ondersoekprojek slaan veediefstal hok in Vrystaat | News Article
Foto ter illustrasie: Pixabay/Pexels

Veediefstal is een van vele uitdagings wat deur boere in die gesig gestaar word.

Die polisie se veediefstalsyfers vir die tydperk 1 April tot 30 Junie 2023 toon 731 gevalle is aangemeld vergeleke met 809 in dieselfde tydperk verlede jaar.

Hoewel dié statistieke nie alle gebiede uitwys waar die misdaad aangemeld is nie, het die Harrismith-polisiekantoor (38 gevalle) in die Thabo Mofutsanyana-streek én die Selosesha-polisiekantoor (31) in Mangaung die top-30 gehaal.

Vrystaat Landbou (VL) sê boere verloor jaarliks honderdduisende rande weens vee wat gesteel word, en om dié misdaad hok te slaan, is 'n privaat ondersoekprojek van stapel gestuur.

Peet Swanepoel, koördineerder vir die privaat ondersoekers in die Vrystaat, sê die projek het op 1 Julie in die Fezi Dabi-omgewing begin. 

‘Die projek het reeds boere bygestaan om vee terug te vind en om sake te registreer’

Dorpe wat deur private ondersoekers bedien word, is:

  • Heilbron;
  • Mafube;
  • Kroonstad/Steynsrus;
  • Cornelia/Villiers; en
  • Parys/Sasolburg-omgewing.

Swanepoel is ’n gesoute veediefstalondersoeker wat al dekades lank by sulke ondersoeke betrokke is en ook veediefstalspeurders opgelei het. 

Hy bespreek die suksesse van die projek tot dusver:

Dr. Jane Buys, VL-veiligheidsrisiko-analis, sê weens oorgrensmisdaad en hul ligging na aan Lesotho staan die distrikte Wepener en Vanstadensrus ook bekend as ’n brandpunt vir landelike misdaad. 

VL versoek boere om op die uitkyk te wees vir onbekende mense en voertuie. Misdaad van enige aard in dié gebied moet by die polisie en ook hul veiligheidsverteenwoordigers aangemeld word.

Swanepoel bespreek van die uitdagings wat hulle sover ervaar het:

Die private ondersoekers help boere met onder meer:

  • Bewaring van die misdaadtoneel;
  • neem 'n A1-stelling. Die boer moet egter steeds die saak by die plaaslike polisiekantoor aanmeld;
  • kontak/samewerking met die Veediefstalspeurder in die omgewing; en
  • om alle bewyse aan die veediefstalspeurder te oorhandig.

“In die Vrystaat is die polisie se vermoë om veediefstal te bekamp baie beperk, veral met betrekking tot die ondersoek van veediefstalsake, inhegtenisnemings en suksesvolle sake deur die howe. 

"’n Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by veediefstaleenhede van die polisie is groot bronne van kommer,” het Francois Wilken, VL-president, tydens die bekendstelling van die inisiatief gesê.

Buys voeg by dat die projek kwartaalliks geëvalueer sal word om dit in samewerking met die polisie uit te brei na ander gebiede waar veediewe bedrywig is. 

Sy vra boere moet seker maak hul vee, veral jonger vee, is gebrandmerk en of getattoeëer om dit makliker te maak om vee op te spoor en te bewys aan wie hulle behoort.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.