Agriculture
Landbouprodusente kan proaktief wees teen droogte─── 08:33 Thu, 08 Jun 2023
Droogte is ’n herhalende verskynsel in die binnelandse gebiede van Suid-Afrika. As daar een sekerte is in die landboubedryf, is dit dat dit een of ander tyd weer droog gaan wees.
OFM Nuus het met die onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg gesels en uitgevind die El Niño-weerverskynsel is baie waarskynlik.
Hoewel dit onmoontlik is om vooruit te beplan vir droogte, is dit egter juis belangrik dat produsente proaktief moet wees. Van den Berg sê landbouprodusente kan daarvoor voorberei.
“Moenie te drasties optree nie, soos om nié te plant nie. Laat grondvogtoestande ’n belangrike rol speel in die besluitneming.”
Voorts moet graanboere meer selektief wees om die regte landerye vir die regte gewasse te gebruik.
“Met die baie nat toestande van die afgelope paar seisoene is grond wat nie baie water kan opgaar nie, al hoe meer gebruik omdat daar gereelde reën voorgekom het. Dit gaan verander tydens die El Niño-seisoene.”
Voorts sê hy swakker landerye kan dalk eerder gebruik word vir die aanplant van weidings.
Ook is grondvogbewaring belangrik en moet landerye so gou as moontlik nadat die oes afgehaal is, bewerk word. Onkruidbeheer is ook van kardinale belang.
“Graanprodusente moet nie staatmaak op hoër pryse as gevolg van droër binnelandse toestande nie, want El Niño is verantwoordelik vir baie goeie produksietoestande in groot wêreldrolspelers soos die VSA, Argentinië en selfs in die oorloggeteisterde Oekraïne, wat druk op die wêreldprys van kommoditeite kan plaas.”
Nog wenke sluit in dat veeboere so gou as moontlik voor die winter kyk na die samestelling van hulle veekuddes.
“Onproduktiewe en ouer diere moet so gou as moontlik verwyder word om nie eers maer te word in die winter en dan weer gevoer te word nie.”
Van den Berg sê die komende somerseisoen mag dalk nie so erg wees nie, maar dit kan wees dat die werklike droogte veeboere eers vanaf die winter en volgende seisoen tref.
“Die huidige El Niño kan die inleiding wees tot ’n droeër siklus, soos wat die geval was vanaf 1982 tot 1987, ook vanaf 1991 tot 1998, 2003 tot 2007 en dan die afgelope droogte vanaf ongeveer 2014 tot 2019.”
Hy sê daar is dikwels nie ’n datum wanneer ’n weidingsdroogte begin nie en dit hang af van die weiding- en kuddebestuur.
“Dit is belangrik om gereeld te kyk na beskikbare weiding en daarvolgens besluite te neem met die agtergrond van droeër toestande wat kan voorkom in die volgende klompie seisoene.”