On Now
Weekends 19:00 - 20:00
Nuut in Afrikaans Nadine
NEXT: 20:00 - 22:00 Sunday Night with Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

Moontlikheid vir Suid-Afrika om mielie-uitvoer na China uit te brei

───   ELSABÉ RICHARD 07:43 Mon, 22 May 2023

Moontlikheid vir Suid-Afrika om mielie-uitvoer na China uit te brei | News Article
FOTO: @coldbeer/Pexelsa.

China het sy mieliebestellings vanuit Amerika gekanselleer en eerder Suid-Afrikaanse mielies aangekoop.

Dit was 'n volume van 108 104 ton mielies uit Suid-Afrika in die laaste week van Maart en die eerste paar weke van April 2023. 

Die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) se Wandile Sihlobo verduidelik dat hierdie aktiwiteit deel gevorm het van Suid-Afrika se mielie-uitvoer in die 2022/23-bemarkingsjaar. 

ALSO READ: Wool industry ecstatic after China lifts ban

"Sommige het hierdie markaktiwiteit geïnterpreteer as dat China die Verenigde State (VSA) met Suid-Afrikaanse mielies vervang het as deel van die breër geopolitieke aangeleentheid. Ons dink so 'n siening kan 'n oorbeklemtoning wees. 

"Eerstens is Suid-Afrikaanse mielies tans mededingend geprys en dit is van goeie gehalte, en dit kon dalk China se besluit beïnvloed het. 

"Tweedens was dit nie die eerste keer dat China Suid-Afrikaanse mielies gekoop het nie, maar die volumes was in die verlede altyd klein. China se mielie-invoer uit Suid-Afrika was byvoorbeeld gemiddeld 3 780 ton per jaar oor die afgelope tien jaar. Dit was slegs die eerste keer dat China 'n groot volume ingevoer het.

"Derdens, kyk ons na Suid-Afrika se 2022/23 totale mielie-uitvoer van 3,64 miljoen ton, China se onlangse aankoop van 108 104 ton is 'n relatief klein volume. 

LEES OOK: Hoe Suid-Afrika Brics vir landboubesigheid kan benut

"Suid-Afrika se voorste uitvoermarkte vir mielies sluit in Taiwan, Japan, Viëtnam, Mexiko, Italië, Suid-Korea, Botswana, Zimbabwe en verskeie markte binne die Afrika-vasteland. 

"Mens moet ook onthou dat China 'n groot mielieprodusent is, wat verantwoordelik is vir 22% van globale mielieproduksie, 'n gemiddeld van 277 miljoen ton. Tog, weens hul aansienlike gebruik, voer China mielies vanaf die wêreldmark in," verduidelik Sihlobo.

Hy sê verder China se mielie-invoer was oor die afgelope drie seisoene gemiddeld 25 miljoen ton per jaar. Die voorste verskaffers van mielies aan China het die VSA, die Oekraïne, Bulgarye, Rusland en Kazakstan en Suid-Afrika ingesluit. 

"Daarom twyfel ons of Suid-Afrika se onlangse mielie-uitvoer na China 'n poging is om die VSA te vervang, soos sommige mediahuise aangevoer het.

"Mens moet besef dat die Amerikaanse mielie-uitvoer na China gemiddeld 17 miljoen ton jaarliks in die afgelope twee seisoene was. Dit oortref Suid-Afrika se totale mielieproduksie van 15,9 miljoen ton vanjaar. 

"In goeie seisoene is Suid-Afrika se mielie-uitvoer gewoonlik net meer as 3 miljoen ton na 'n reeks markte. Daarom glo ons dat China se onlangse mielie-invoer uit Suid-Afrika 'n algemene markaktiwiteit was, dit wil sê aanboddiversifikasie, en 'n mens moet nie te veel daarin lees nie."

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.