On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Berigte oor tekort aan slangbyt-teengif weerlê

───   ELSABÉ RICHARD 06:38 Sat, 08 Apr 2023

Berigte oor tekort aan slangbyt-teengif weerlê | News Article
FOTO: Alexis Chateau/Pexels.

Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) het berigte weerlê dat daar 'n tekort aan slangbyt-teengif in Suid-Afrika is.

Volgens die NHLS is teengif in die land beskikbaar en word meer dosisse vervaardig.

LEES OOK: ‘Tekort aan teengif vir slangbyte word aangespreek’

"Ons het ons slangbyt-teengifproduksie opgeskaal en stuur eenhede sedert Desember 2022. Ons versprei steeds hierdie broodnodige en lewensbelangrike medisyne landwyd. 

"As sodanig het ons tussen 1 Desember 2022 en 31 Maart 2023 1 422 dosisse deur die land versprei en het steeds dosisse wat tans in die produksiefase is.

"Ons het vanaf Maandag (03/04) 'n bondel van 1 077 slangbyt-teengifdosisse versprei en hou steeds 'n beperkte aantal dosisse in vir noodgevalle," sê die NHLS.

Uitdagings met beurtkrag

Volgens die NHLS het beurtkrag 'n invloed op sy vermoë om teengif te produseer. Dit sê dit benodig betroubare kragtoevoer, en dat die voortdurende oorskakeling na kragopwekkers tydens kragonderbrekings produksie onderbreek.

"Binne 'n maand sou ons die agterstand aansienlik verminder het, en na twee maande sou ons terug wees na normale produksiekoerse."

Berigte oor tekorte

Die Afrika-slangbytinstituut se Johan Marais het met OFM-nuus gedeel dat die tekort reeds vir sowat agt maande voortduur.

“Die groot probleem is die polivalente-teengif. Dit is die algemene een wat jy gebruik vir die meeste slangbyte – mamba, kobra, poffaderbyte – so dit is die groot problem.

“Vir hospitale is daar vir noodgevalle nog klein hoeveelhede op aanvraag beskikbaar, maar veeartse kry in hierdie stadium so te sê geen teengif nie.”

Marais sê Suid-Afrika het voorheen tekorte gehad, maar nie vir só ‘n lang tydperk nie.

Die NHLS sê dit waardeer die publiek se kommer, maar dit doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om nie paniekerig te raak nie. 

"Ons werk hard daaraan om hierdie lewensreddende behandeling vir slangbyte aan almal beskikbaar te stel, insluitend diere, ongeag die ligging. 

"Die NHLS-bestuur neem hierdie saak baie ernstig op en werk hard daaraan om dit op te los."

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.