Agriculture
Meer as 20 000 hektaar deur brande in Deben-omgewing verwoes─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 18 Jan 2023
Sowat 22 000 hektaar weiveld het weens veldbrande in die Deben-omgewing in die Noord-Kaap in die slag gebly.
Kommersiële grond is grotendeels geraak, sê Agri Noord-Kaap-omgewingsvoorsitter, Eben Anthonissen.
Hy sê geen veeverliese is tot dusver aangemeld nie, maar dat daar wel wild in die brande omgekom het.
Die veldbrand het volgens Anthonissen Sondag begin en is eers Dinsdag geblus, met spanne wat steeds op hul hoede was.
Die vermoede is dat die brand ontstaan en versprei het te midde van droë warm weer toe 'n verdagte persoon tuinvullis langs die pad gebrand het.
"Sodoende het dit gebrand in 'n suidelike rigting, in die rigting van die dorpie Olifantshoek.
"Negentien plase het in die slag gebly, waarvan 'n groot hoeveelheid kommersiële grond is. Daar is ook mynplase wat in die slag gebly het."
Anthonissen deel dat hulle wag vir satellietbeelde vanaf die Noord-Kaapse Departement van Landbou om die presiese omvang van die area wat verwoes is te bepaal.
Agri Noord-Kaap het onmiddelik fondse beskikbaar gestel om boere in nood met voer te help. Anthonissen sê die eerste vragte voer word Woensdag vanuit Jan Kempdorp gelaai.
"Agri Noord-Kaap is ook betrokke om te help in samewerking met die plaaslike landbou-unie en landbouverenigings om te verseker dat daar huurgrond beskikbaar raak elders vir hierdie geaffekteerde grondeienaars."
Skakel Agri Noord-Kaap vir enige navrae oor hoe om voer te skenk vir produsente in nood.
Voorbereiding
OFM-nuus het verneem dat die voorbereiding vir die brandseisoen in die Vrystaat aan die gang is.
Die Mangaung-brandbeskermingsvereniging waarsku op sy Facebook-blad dat dit tans groen en welig is in die Mangaung-omgewing, maar dat daardie groen gras in 'n gevaarlike brandmateriaal verander in die winter.
Die vereniging raai inwoners aan om nóú al te begin voorberei deur brandbane te maak en om ontslae te raak van gras wat teen 'n gebou se muur groei en blare wat in geute opgehoop het.
Van Sentraal-Suid-Afrika se produsente het die afgelope jare groot skade weens veldbrande gely, wat infrastruktuur en veeverliese insluit.