On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Federasie gekant teen versoeke om Amerikaanse veghonde te verbied

───   ELSABÉ RICHARD 08:01 Tue, 22 Nov 2022

Federasie gekant teen versoeke om Amerikaanse veghonde te verbied | News Article
FOTO: Pit Bull Federasie van Suid-Afrika.

Onbehoorlike teling en eienaarskap is moontlik twee van die redes wat aanleiding tot aggressiewe honde gee.

Dit is volgens die Pit Bull Federasie van Suid-Afrika se Lehanda Rheeder.

Die federasie is sowat 30 jaar gelede gestig.

“Om ‘n ras te verban is nie noodwendig die uitweg nie, en dit is hoekom die federasie ten strengste gekant is daarteen.

“Die rede hoekom ons gekant is daarteen om die ras te verban is dit gaan nie die oplossing wees vir die probleem wat ons het nie. Die probleem is aggressiewe honde wat mense byt en doodbyt.

“So, dit is verkeerde eienaarskap met verkeerde honde,” sê Rheeder.

Sy verduidelik verder dat sou die honderas verbied word, “daai element van verkeerde eienaarskap net na die volgende ras toe beweeg… Dan is al die kragrasse in gevaar.”

Rheeder sê daar moet klem gelê word op die beter hantering en uitvoering van die bestaande wetgewing vir honde-eienaars in Suid-Afrika. “Dis nie net wetgewing wat gaan help nie, dis verantwoordelike eienaarskap en verantwoordelike teling.”

Petisie om die honderas as troeteldier in Suid-Afrika te verban

Die Sizwe Kupelo-stigting het ‘n petisie begin om die honderas as troeteldier in Suid-Afrika te verbied. Teen Dinsdag 22 November 2022 het byna 110 000 Suid-Afrikaners reeds dié petisie onderteken.

Die stigting sê “ná jare se bose aanvalle op onskuldige burgers, insluitend jong kinders, het die Sizwe Kupelo-stigting 'n beroep gedoen op die onmiddellike verbod op Amerikaanse veghonde.

“Die oproep om [die honderas] in Suid-Afrika te verbied, kom omdat ander lande soos Rusland, Finland, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Portugal, dele van Duitsland, China, Brasilië en dele van Australië, onder ’n magdom ander lande [die honderas] óf verbied het, beperkings op eienaarskap van die ras geplaas het, óf die invoer daarvan verbied het.

“Stigter Sizwe Kupelo het 'n beroep op die Suid-Afrikaase regering gedoen om [dié lande] te volg.”

Die Departement van Landbou het aan OFM-nuus gesê hy is deur die stigting genader oor 'n datum vir die oorhandiging van ‘n memorandum. Die departement is ook intussen in gesprek met 'n Amerikaanse Veghond-telersvereniging om 'n beter begrip te kry van dié honderas.

ALSO READ: Pit bulls were surrendered in Bloem

Oorhandiging van honde aan die DBV

Verskeie inwoners van Bloemfontein het hulle Amerikaanse veghonde aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in die stad oorhandig.

Ná die dood van 'n agtjarige Olebogeng Mosime op 12 November 2022, is 35 honde daardie Maandag oorhandig.

Die DBV het die publiek versoek om enige hond wat die lewens van die gemeenskap, die families of eienaars van honde in gevaar kan stel, te oorhandig.

Mosime is in Vista Park, Bloemfontein, deur hulle bure se Amerikaanse veghond aangeval. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het op die voorval gereageer en weens die unieke omstandighede is die hond geskiet.

ALSO READ: Residents kill Pit Bull that mauled child to death

Nóg ‘n bytvoorval in die Vrystaat

Die driejarige Keketso Saule is op Sondag 20 November 2022 deur twee Amerikaanse veghonde in Phomolong in Hennenman doodgebyt. Woedende inwoners het een van die twee honde doodgemaak.

Die eienaar van die honde het ‘n dag later in die hof verskyn en is op R300 borgtog vrygelaat.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.