Agriculture
Die eenmansaak-besigheidstruktuur in landbou─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Mon, 07 Nov 2022
Daar is verskeie besigheidstrukture in Suid-Afrika waarvan 'n boerdery gebruik kan maak.
Stephan Pietersen, die stigter van Work Accident Support, het met OFM-nuus gesels oor die eenmansaak as 'n landbou-besigheidstruktuur.
Sien onderstaande PODCAST
Die inligting beoog nie om advies vir produsente te gee nie, maar om slegs algemene inligting te deel. Dit is die plig van die produsent om die inligting van sy finansiële adviseurs en prokureurs te verkry om ten einde die korrekte besluit vir sy besigheid te neem.
In jou ondervinding, wat is van die besigheidstrukture waarvan produsente gewoonlik gebruik maak?
As iemand wat al heelwat besighede by die Vergoedingsfonds geregistreer het, registreer 'n verskeidenheid produsente eenmansake, private maatskappye en in 'n mindere mate Trusts.
LEES OOK: Registrasie van verskillende entiteite by die Vergoedingsfonds
As ons kyk na 'n eenmansaak, wat is van die inligting wat 'n produsent van moet weet?
'n Eenmansaak of 'n alleenhandelaar dryf in hulle eie naam handel en dis nie 'n aparte regsentiteit van die persoon wat die eienaar van die besigheid is nie.
Dit beteken die eienaar sal in sy persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou word vir enige rekeninge wat nie betaal is deur is deur die eenmansaak nie.
Daar kan ook slegs een eienaar wees, en indien die eienaar nog iemand as 'n vennoot sou wou inbring, sal die eenmansaak ontbind moet word en 'n ander besigheidstruktuur sal moet gestig word.
LEES OOK: Nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies kan tot boetes lei
Alle winste sal ook aan die eienaar betaal word. Die eienaar kan sy besigheid bestuur soos hy goed dink en het nie goedkeuring nodig van enigiemand anders nie.
Wat is van die adimistratiewe verpligtinge van 'n eenmansaak?
Eerstens is dit nie verpligtend vir 'n eenmansaak om geregistreer te wees by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) nie, soos in die geval van 'n private maatskappy.
'n Persoon moet slegs oor die kontraktuele kapasiteit beskik om natuurlik kontrakte te sluit en moet die volgende rekord stoor vir 'n tydperk van ten minste vyf jaar:
- Belastingrekords;
- Bankstate;
- Belastingfakture; en
- Enige ander finansiële dokumente.
Finansiele state is nie nodig om jaarliks opgetrek te word nie.
LEES OOK: Produsente versoek om van vergoedingsfondsvoordele gebruik te maak
Wat 'n produsent in gedagte moet hou, is dat wanneer hy die boerdery wil uitbrei en kapitaal nodig gaan hê, kan dit moeilik wees om finansiering by 'n bank te kry.
Wat is die belasting implikasies?
Die besigheid sal belas word teen die eienaar se belastingskaal, wat gewoonlik tussen 18% en 45% is op die winste wat behaal is. Daar kan ook aftrekkings gedoen word in die produksie van die inkomste. Die eienaar sal as 'n voorlopige belastingbetaler beskou word.
Kapitaalwinsbelasting is ook betaalbaar by die verkoop van 'n bate. Alle bates van die eenmansaak sal deel vorm van die boedel indien die eienaar te sterwe sou kom.
By die sterfte van die eienaar sal die eenmansaak ontbind, so ook alle kontrakte en lisensies. Die eenmansaak sal ook ontbind as die eienaar insolvent sou raak.
LEES OOK: Maak seker jou boerdery is onder die regte sub-klas geregistreer
Dit is belangrik vir eienaars om ook 'n testament op te stel en uiteen te sit wat moet gebeur met die bates van die eenmaansaak want dit kan negatiewe gevolge inhou as daar nie voorsiening gemaak word vir die besigheid nie.
Ek ervaar ook dat baie eenmansake oorskakel na 'n private maatskappy soos die besigheid groei. Dit is belangrik vir 'n eienaar om die voor- en nadele te bestudeer van al hierdie tipe besighede.
As die besigheid geregistreer is by die Vergoedingsfonds as 'n eenmansaak en verander na 'n private maatskappy, moet daar aansoek gedoen word vir die verandering van die naam van die besigheid en ook enige ander besonderhede.