Agriculture
Die vraag in Suid-Afrika na boerbokke neem toe─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 20 Apr 2022

Boerbokke is bekend vir hulle vrugbaarheid en kan lei tot ‘n winsgewende besigheid op die lang termyn.
Maar Matthys van Tonder van Grondegoed Boerbokstoet in Noordwes, sê dis belangrik dat voornemende boerbokboere deeglike navorsing doen vóórdat hulle in hierdie tipe boerdery belê.
Sien onderstaande PODCAST
Van Tonder sê aanvraag vir boerbokke neem jaarliks toe, nie net plaaslik nie maar ook internasionaal. Die pryse styg ook jaar-tot-jaar – wat hierdie tipe boerdery ‘n goeie belegging maak. Dit is egter duur om in hierdie stadium dié bedryf te betree.
Daar is verskeie rasse bokke in Suid-Afrika, maar volgens Van Tonder is die boerbok meer veredeld as al die ander rasse. Boerbokke is deur die jare geteel uit verskillende inheemse bokrasse. Hulle word hoofsaaklik vir vleis geteel en is ook bekend vir hul groei en aanpasbaarheid.
“Met die stoetproduksie is dit maar ons plig om teelmateriaal aan kommersiële boere te versaf, sodat hulle hulle kommersiële bokke, wat baie keer kruisings van verskillende rasse is, kan verbeter.”
Die SA Boerbok Telersvereniging (SABTV) help graag persone wat die boerbokbedryf wil betree met inligting en ondersteuning. Die SABTV maak ook keurders beskikbaar om die bokke te keur, deel Van Tonder.
“Ek dink as iemand geen boerdery agtergrond het nie en daarmee wil begin, is dit die beste om een of twee mense te identifiseer in jou area wat jy kan gaan besoek en by kers opsteek.
“Ek dink baie mense maak die fout om dadelik te koop en te begin maar nie eers bietjie navorsing te doen en raad te kry nie.”
Van Tonder sê boerbokboerdery kan baie arbeidsintensief raak, veral met lamseisoen.
Boerbokveiling
Om meer te leer oor boerbokke en om met ander suksesvolle boerbokboere te skakel, nooi Van Tonder voornemende boerbokboere uit om hul stoetveiling op 18 Junie by Tweerivier-veilingsgronde in Rustenburg by te woon.
Hy beklemtoon dat boere nie bokke van enige persoon aanlyn moet koop voordat hulle die bokke self gesien het nie. Baie beginboere is só bedrieg en het baie geld verloor.