On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer saai kommer in lewendehawebedryf

───   ELSABÉ RICHARD 08:54 Tue, 22 Mar 2022

Bek-en-klouseer saai kommer in lewendehawebedryf | News Article
Suid-Afrika het reeds sy bek-en-klouseervrye status verloor wat groot finansiële implikasies inhou omdat Suid-Afrika nie meer vleis uit kan voer nie. FOTO: Wikimedia Commons

Gerugte het die rondte begin doen dat daar nou ook moontlik bek-en-klouseer in die Noordwes-provinsie is.

Sien onderstaande PODCAST

Dr. Chris van Dijk, ‘n veeartsenykundige spesialis, sê daar word nog gewag vir bevestiging vanaf die Nasionale Departement van Landbou of die verdagte gevalle in Noordwes wel bek-en-klouseer gevalle is, of nie.

Hy benadruk dat bek-en-klouseer ‘n ernstige virussiekte is wat groot ekonomiese nagevolge inhou. Suid-Afrika het reeds sy bek-en-klouseervrye status verloor, wat groot finansiële implikasies inhou omdat Suid-Afrika nie meer vleis kan uitvoer nie.

Lees ook: Bek-en-klouseer – ‘n groot bedreiging vir SA se rooivleisbedryf

Kliniese tekens van bek-en-klouseer sluit in blasies in die dier se mond, ‘n hoë temperatuur en letsels op die pote. Omdat die dier letsels in die mond het, kom baie speeksel voor. Diere wat besmet is met die virus, is geneig om abnormaal te loop weens die letsels op die pote.

Van Dijk sê alhoewel diere besmet raak met die virus, gaan baie min van die diere dood van die virus. Jong diere vrek gewoonlik as gevolg van miokarditis of ‘n ontsteking van die hartspier, daar is egter min volwasse diere wat vrek van bek-en-klouseer.

Lees ook: Is there a correlation between heavy rainfall and animal diseases?

Bek-en-klouseer kan ook met ander dieresiektes verwar word, soos runderpes, beesvirus-diarree (BVD) en bloutong, sowel as beesherpes-virusse.

Bek-en-klouseer is volgens wet ‘n beheerde siekte en moet by die staats- of kuddeveearts aangemeld word sodra produsente van die bogenoemde kliniese simptome by diere opmerk.

Die veearts sal dan die provinsiale sowel as nasionale direkteure in kennis stel. Van Dijk sê omdat dit ‘n beheerde siekte is, sal die staat oorneem en besluite maak rondom watter maatreëls inplek gestel moet word, soos byvoorbeeld:

  1. Beperking van beweging van diere. Diere mag nie die plaas verlaat nie en produsente moet ook versigting wees om diere in te koop wat nie van ‘n bek-en-klouseervrye gebied af kom nie.
  2. Mense wat dalk in kontak was met besmette diere. Mense wat in kontak was met ‘n dier wat met bek-en-klouseer besmet is, kan vir ongeveer 48-uur die virus in sy boonste lugweë huisves.


Suid-Afrika werk hard om bek-en-klouseervrye status terug te kry

Van Dijk sê daar word daagliks daaraan gewerk om Suid-Afrika se status as bek-en-klouseervrye sone weer terug te kry by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE). “Die staat is elke dag intens betrokke op nasionale, internasionale en provinsiale vlak om die siekte onder beheer te kry.

“So, daar is ‘n paar goed wat hulle in plek moet kry. Die eerste is marktoegang. Met ander woorde daar moet slagpale binne die area wees sodat die diere daar geslag kan word. Die grense moet weer gedefinieer word en baie duidelik moet dit toegepas word. En die volgende ding waaraan die Nasionale Dieregesondheidsforum werk, is die sogenaamde Lifestock Identification and Traceability System (LITS)-projek.” 

Hierdie projek is om die identifikasie en naspeurbaarheid van diere baie nou toe te pas.



OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.