Agriculture
Bek-en-klouseer – ‘n groot bedreiging vir SA se rooivleisbedryf─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 16 Mar 2022
Die aantal plekke wat met bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal (KZN) besmet is, is aangepas sedert die vorige verslag in Desember 2021 wat deur die Direktoraat Dieregesondheid uitgereik is.
Dit is volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), wat byvoeg dat daar met die vrystelling van die vorige verslag 26 geaffekteerde liggings was.
Sien onderstaande PODCAST
Volgens die RPO is die situasie sedertdien by twee liggings opgelos en by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) afgesluit, terwyl een nuwe ligging bygevoeg is.
Lees ook: Kritiese maatreëls vir lewendehawe-agente skop amptelik op 1 Julie in werking
Die RPO berig verder dat kliniese en serologiese waarnemings by die twee voerkrale, wat voorheen besmet was, aangetoon het dat geen aktiewe verspreiding van die siekte vir langer as ses maande onder diere voorgekom het nie. Kwarantynmaatreëls is by albei liggings opgehef en slagtings vind nou by dié voerkrale plaas vir die Suid-Afrikaanse mark.
OFM-nuus het voorheen berig dat Roelie van Reenen, hoof van die verskaffingsketting van die Beefmaster-groep, sê indien bek-en-klouseer na ander provinsies sou versprei, dit katastrofies vir Suid-Afrika sal wees.
Van Reenen het ook met OFM-nuus gedeel dat die rooivleisbedryf hard werk om weer as bek-en-klouseervrye sone verklaar te word.
Lees ook: Opspoorbaarheid en bioveiligheid noodsaaklik vir SA se beesvleisbedryf
Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad, oftewel APAC, het ook gedeel dat daar maatreëls in plek gestel is vir lewendehawe-agente wat ten doel het om onder meer te verseker dat albei die wild- en lewendehawebedrywe aan die OIE se kode voldoen om dieresiektes te verhoed.
Maatreëls sluit in:
- Die verpligte registrasie by APAC;
- Lewendehawe-agente moet aanvaarding en verantwoordelikheid van dieresiektewetgewing erken en afteken; en
- Daar moet twee keer per jaar ‘n onafhanklike eksterne oudit van die veilingsgeriewe en alle biosekuriteit-prosedures onderneem word. Die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy, SAMIC, sal die rol vervul.
- Elke veilingsperseel moet ‘n biosekuriteit-praktisyn aanstel wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad (SAVC) geregistreer moet wees. Dié biosekuriteit-praktisyn is verantwoordelik vir die biosekuriteitsplan en moet ook toesien dat daar aan alle minimum-biosekuriteitsmaatreëls voldoen word vir alle diere van verskillende oorsprong wat vir die veiling bymekaar kom.
Die Minister van Landbou, Thoko Didiza, het ook verlede jaar ‘n ministeriële taakspan saamgestel oor biosekuriteit met spesiale klem op bek-en-klouseer, Afrika-varkpes en die hoogs aansteeklike voëlgriep. Didiza sê die doel van die taakspan is om meganismes te vind en aanbevelings te doen oor ‘n reeks sleutelbesluite.
OFM-nuus