On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

National

Markus Jooste, voormalige Steinhoff-hoof, se dood ondersoek

───   08:14 Fri, 22 Mar 2024

Markus Jooste, voormalige Steinhoff-hoof, se dood ondersoek | News Article
Marcus Jooste, voormalige Steinhoff-hoof.

Die gerapporteerde dood van Jooste herinner Suid-Afrikaner onwillekeurig aan die dood van Gavin Watson, die voormalige Bosasa-baas.

’n Man (63) het volgens die polisie in Hermanus Donderdag selfdood gepleeg. Die plaaslike media in die Wes-Kaap het die man as Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, geïdentifiseer.

Jooste, wat daartoe bygedra het dat Steinhoff van ’n klein Johannesburgse meubelmaatskappy in ’n multinasionale kleinhandelaar omskep is, is Woensdag ’n stewige boete opgelê vir rekeningkundige bedrog. Die land se finansiële markwaghond, die Financial Sector Conduct Authority (FCSA), het Jooste ’n boete van R475 miljoen opgelê. 

Die voormalige uitvoerende hoof word daarvan beskuldig dat hy vals transaksies gebruik het om die groep se wins kunsmatig op te blaas.

Reuters het berig ’n onafhanklike verslag het bevind dié kleinhandelaar het sy winste oor etlike jare oorskat en rekenkundige bedrog ter waarde van $7,4 miljard gepleeg, waarby 'n klein groep topbestuurders en buitestanders betrokke was.

Steinhoff het die eerste keer in Desember 2017 die tekort in sy rekeninge bekend gemaak, wat beleggers geskok het.

“Die ondersoek het bevind dat mnr. Jooste... valse, misleidende of bedrieglike verklarings oor Steinhoff International Holdings gepubliseer het, wat hy geweet het ‘bedrieglik’ is,” het die FCSA Woensdag in ’n verklaring gesê. Die FCSA het ’n sperdatum van 19 April vir die betaling van die R475 miljoen se boete uitgereik.

Jooste het destyds bedank, maar het enige kennis van rekeningkundige bedrog ontken. Dié reguleringsowerheid het beplan om binnekort ook ’n strafsaak teen hom aanhangig te maak.

Volgens die plaaslike media in die Wes-Kaap het die 63-jarige sakeman homself geskiet, maar besonderhede oor sy dood bly onduidelik aangesien die polisie geweier het om volledige inligting te deel.

“Hermanus SAPD het ’n geregtelike doodsondersoek geopen vir verdere ondersoek ná die dood van ’n 63-jarige man,” het die polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Malcom Pojie, gesê en bevestig dat die oorledene ’n sakeman was.

“Die polisie is versoek om aandag te gee aan ’n skietvoorval omstreeks 14:40 by Kwaaiwaterstrand in Hermanus. Die oorledene het aan sy skietwond beswyk nadat hy by ’n privaat hospitaal aangekom het,” het hy gesê.

Ondersoeke na die dood duur voort, het die polisie gesê.

Byna 98% van Steinhoff, die Suid-Afrika-gebaseerde maatskappy wat in Frankfurt en Johannesburg genoteer is, se aandeelwaarde is uitgewis aangesien dit ’n stortvloed van litigasie van gegriefde aandeelhouers en sakevennote, insluitend ’n voormalige voorsitter, in die gesig gestaar het.

’n Duitse hof het in Junie 2023 ’n arrestasiebevel teen Jooste uitgereik nadat hy versuim het om vir die begin van sy verhoor in April verlede jaar te verskyn.

Die gerapporteerde dood van Jooste herinner Suid-Afrikaners onwillekeurig aan onder andere die dood van Gavin Watson, die voormalige Bosasa-baas. Watson is na bewering in 2019 in ’n ongeluk op die R21 na die OR Tambo Internasionale Lughawe dood. Suid-Afrikaners het die afgelope jare sy dood gereeld bevraagteken. 

En dan het Thabo Bester ons ook geleer: Benoude katte maak benoude spronge.

OFM Nuus cg



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.