National
Ace Magashule behou moontlik sy nuwe ANC SG-rol─── 13:06 Wed, 20 Dec 2017
Ace Magashule kan moontlik sy nuwe posisie as Sekretaris-generaal van die ANC behou, nadat die party blykbaar 'n ooreenkoms kon bereik rakende 68 stemme wat glo nie getel is in die verkiesing vir die rol nie.
Beide eNCA en Eyewitness News berig dat 'n formele aankondiging binnekort hieroor in die amptelike kongresvergadering gemaak sal word.
Kwazulu-Natal se Senzo Mchunu het glo net 15 uit die ongetelde 68 stemme gewen, terwyl hy 24 stemme benodig het om vir Magashule te oorwin. Die ANC se kongresbestuurskomitee is sedert gisteroggend in vergaderings betrokke om tot 'n vergelyk te kom oor die stemme, wat glo nie getel is nie omdat daar nie sekerheid was oor of die betrokke afgevaardigdes wel geregtig was om te stem nie.
Dit is onduidelik hoe tot die besluit om net 15 van die stemme aan Mchunu toe te ken geneem is, en volgens Eyewitness News se bronne is sy ondersteuners besig om 'n hofaansoek voor te berei om dié uitslag te betwis.
OFM-nuus