Local News
Polisie-eenheid in Noordwes palm nasionale eerbewyse in─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:28 Mon, 29 Jan 2018
![Polisie-eenheid in Noordwes palm nasionale eerbewyse in Polisie-eenheid in Noordwes palm nasionale eerbewyse in | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_2018129133132.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Polisiebeamptes in Noordwes het uitgeblink op die polisie se nasionale eerbewys-geleentheid die naweek.
Kapt. Buta Moela, ‘n speurder van die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, oftewel GKS in Mmabatho, is as die Ondersoekbeampte van die Jaar aangewys.
Die eerbewys vir die beste ondersoekspan oor die land heen het aan die bevelvoerder van die GKS-eenheid in Klerksdorp, lt.kol. Arien Kruger en haar span, gegaan. Moela het verskeie reeksverkragtings ondersoek en 'n verdagte, wat met 22 klagte van onder meer verkragting, huisbraak en roof verbind is, aangekeer. Hy het meer as 120 ooggetuies opgespoor en verseker dat hulle in die hof getuig, waarna dié veroordeelde tot nege jaar lewenslange tronkstraf met 'n bykomende 287 jaar gevonnis is. Moela sê dié eerbewys beteken baie en hy is dankbaar vir die erkenning wat hy daarmee ontvang het. Hy is al 20 jaar verbonde aan dié eenheid in Mmabatho en het al 32 jaar se diens in die polisie.
Die 53-jarige Moela sê dit is sy passie om ‘n verskil te maak in gemeenskappe wat hom aanspoor in sy beroep. Hy is so in sy noppies met die eerbewys wat hy ontvang het dat hy nog harder wil werk om weer as die land se beste ondersoekbeampte aangewys te word.
Kruger en haar span se harde werk het vrugte afgewerp met 15 lewenslange vonnisse en dat tien aangeklaagdes elk vir 20 jaar lank afsonderlik agter tralies gaan deurbring. Sy sê spanwerk is die wagwoord.
“Ons deel lief en leed met mekaar.” Haar span, wat altesaam 15 ondersoekbeamptes, twee administratiewe beamptes en twee skoonmakers insluit, ondersteun mekaar. Daar waar nood is, help almal en ons spring in en doen ons ding.”
Kruger sê dié eenheid het al voorheen op provinsiale vlak gepronk as die beste en sy is verlede jaar as die land se beste eenheidsbevelvoerder (GKS) aangewys. Haar eenheid het in haar voetspore gevolg. Sy meen ‘n eenheid is so sterk en goed met die leiding wat hulle van hul bevelvoerder ontvang.
Die eerbewys-geleentheid is Vrydag in Durban gehou. Dit was die vyfde keer wat dié jaarlikse geleentheid gehou is. Dit het ten doel om eer aan polisielede vir hul uitnemendheid en goeie werk te bring.
Provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Baile Motswenyane, sê dit is goed om polisiebeamptes, wat bereid is om die ekstra myl te loop, te beloon en sy hoop Moela en Kruger spoor hul kollegas aan om dieselfde te doen.
Kapt. Buta Moela, ‘n speurder van die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, oftewel GKS in Mmabatho, is as die Ondersoekbeampte van die Jaar aangewys.
Regs is die bevelvoerder van die GKS-eenheid in Klerksdorp, Lt.kol. Arien Kruger, wie se eenheid as die beste in die land aangewys is.
OFM-nuus