Local News
HTS Louis Botha 'kon verhoed dat vermeende verkragters skoolgaan'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:41 Thu, 21 Sep 2017
![HTS Louis Botha 'kon verhoed dat vermeende verkragters skoolgaan' HTS Louis Botha 'kon verhoed dat vermeende verkragters skoolgaan' | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_2017921111036.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê HTS Louis Botha in Bloemfontein se beheerliggaam kon verhoed het dat drie seuns, wat strafregtelik vervolg word vir die verkragting van 'n medeleerling, nou terug is by dié skool.
Dit terwyl die slagoffer ook by die skool is.
Volgens die SAOU in die Vrystaat se Reniël Lodewyk het die skool se beheerliggaam daarin gefaal om 'n amptelike interne ondersoek te begin kort ná die beweerde verkragting op die skoolterrein in Junie vanjaar. Dié tienerseuns is wel kort ná die voorval tydelik deur die beheerliggaam vir 'n week geskors. Daarna het hulle net weggebly van die skool totdat hul ouers verlede week ‘n hofbevel verkry het. Daarin is beslis dat hulle ‘n reg tot basiese onderwys het en indien hulle nie teruggaan skool toe nie, sal hul grondwetlike reg oortree word. Volgens Lodewyk het die beheerliggaam die Skolewet oortree toe ‘n interne ondersoek nie begin is nie en daar nie ‘n dissiplinêre verhoor plaasgevind het nie.
“Die beheerliggaam het geen amptelike ondersoek gedoen nie. Dit is deur ons voorgestel via die onderwysdepartement om ‘n ondersoek te begin.”
Die beheerliggaam se onvermoë om die voorval te ondersoek, soos wetlik vereis word, het die hof genoodsaak om die seuns se reg tot onderwys eerste te stel en daarom het hulle Maandag na dié skool teruggekeer. Die beheerliggaam moet die voorval binne sewe dae ondersoek, soos voorgeskryf deur die Skolewet.
Lodewyk sê die beheerliggaam se hantering van dié voorval is een van die redes waarom die SAOU nou stappe doen om die beheerliggaam te laat ontbind. 'n Hofaansoek is in die Vrystaatse Hooggeregshof ingedien en die hofstukke is Maandag op dié beheerliggaam en sy lede beteken. Redes vir die ontbinding word in die hofstukke vervat. Dit kom daarop neer dat die beheerliggaamlede hul magte oorskry as dit by skoolbestuur en beheer kom.
Hy sê die drie seuns ontvang egter nie onderrig in klaskamers nie. Hulle ontvang hul daaglikse skoolwerk in dié skool se administratiewe gebou.
OFM-nuus