On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Local News

Onderwysdepartement weet drie vermeende verkragters is terug by skool

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:07 Tue, 19 Sep 2017

Onderwysdepartement weet drie vermeende verkragters is terug by skool | News Article

Die Departement van Onderwys in die Vrystaat het bevestig dat drie seuns van HTS Louis Botha in Bloemfontein, wat na bewering 'n medeleerling op die skoolterrein verkrag het, gister onderrig by dié skool hervat het.


Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, sê die seuns het 'n hofbevel verkry waarin beslis is dat die departement die seuns se grondwetlike regte op basiese onderrig skend deur onderrig van hulle te weerhou. Hy sê die seuns is terug by die skool, terwyl hulle strafregtelik vervolg word.

Die departement het met ouers en die skool se bestuur, asook die beheerliggaam, vergader. Selfs leerlinge is gister van die hofbevel ingelig wat deur die seuns verkry is. Dit is beklemtoon dat dit nie die departement se besluit was nie.

Ndaba sê die departement werk nou saam met HTS Louis Botha se skoolbeheerliggaam en 'n interne ondersoek deur die departement na die voorval op 7 Junie, waarvan ‘n selfoonvideo wyd op sosiale media versprei is, is in die proses.

Hy wou nie kommentaar lewer oor die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat se poging om HTS Louis Botha se beheerliggaam te laat ontbind nie.

Provinsiale Sekretaris van die SAOU, Reniël Lodewyk, sê 'n hofaansoek is in die Vrystaatse Hooggeregshof ingedien en die balju het gisteraand die hofstukke op dié beheerliggaam en sy lede beteken.

Redes vir die ontbinding is in die hofstukke vervat. Volgens Lodewyk oorskry beheerliggaamlede van dié skool onder meer hul magte as dit by skoolbestuur en -beheer kom.

Die beheerliggaam se hantering van die verkragting op die skoolterrein word ook in die hofstukke vervat. Lodewyk sê onderwysers is ontevrede met die beheerliggaam se hantering van die voorval en die feit dat dit nie deeglik ondersoek is nie.

Ndaba sê die departement sal op die regte tyd kommentaar lewer op aanbeveling van sy regspan.


OFM-nuus



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.