On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Local News

Drie vermeende verkragters terug by Bfn-skool

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:23 Tue, 19 Sep 2017

Drie vermeende verkragters terug by Bfn-skool | News Article

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat doen stappe om die HTS Louis Botha in Bloemfontein se beheerliggaam te laat ontbind.


Dit kom nadat die SAOU die departement, sonder sukses, herhaaldelik versoek het om in te tree. Provinsiale Sekretaris van die SAOU, Reniël Lodewyk, sê 'n hofaansoek is in die Vrystaatse Hooggeregshof ingedien en die balju het gisteraand die hofstukke op dié beheerligaam en sy lede beteken.

Redes vir die ontbinding is in die hofstukke vervat. Volgens Lodewyk oorskry beheerliggaamlede van dié skool onder meer hul magte as dit by skoolbestuur en -beheer kom.

Daar is talle geldelike kwessies wat aangespreek moet word. Dit is kommerwekkend, sê hy. Nog kwessies wat in die hofstukke vervat is, sluit in die aanranding van leerkragte deur leerlinge. ‘n Voorval van verkragting is nog ‘n kwessie wat nie korrek deur die beheerliggaam hanteer is nie.

Lede van die beheerliggaam “bestuur die skool net soos hulle wil,” en vir eie gewin. Volgens hom is daar lede op die beheerliggaam met sowat R100 000 agterstallige skoolgeld.

Die hofaansoek kom te midde van die terugkeer van drie seuns na die skoolbanke gister, nadat hulle na bewering 'n minderjarige meisie, wat glo dronk was, vroeër vanjaar op die skoolterrein verkrag het. Lodewyk sê ‘n hofbevel is verlede week verkry waarin beslis is dat die seuns onderrig by die skool mag hervat.

OFM-nuus het al drie weke gelede verneem dat die betrokke seuns beplan om terug te keer na die skool. Die departement se woordvoerder, Howard Ndaba, het toe bevestig die seuns is nie terug by die skool nie.

Die SAOU het nog nie die hofbevel onder oë gehad nie, sê Lodewyk. Dit is vermoedelik deur die seuns se ouers verkry.

Hy sê dit is te verstane dat die seuns wat strafregtelik vervolg word hangende die hofverrigtinge, ‘n reg op basiese onderrig het, maar dit is kommerwekkend dat hulle voortaan skool sal gaan saam met die meisie wat na bewering deur hulle verkrag is. Onderwysers is daarmee saam ontevrede met die beheerliggaam se hantering van die voorval en die feit dat die beheerliggaam nie die voorval deeglik ondersoek het nie en daarmee gesloer het.

Intussen berig Mark Steenbok die drie seuns sal weer op 19 Oktober in die One Stop Kinderreg-sentrum in Bloemfontein op ‘n aanklag van verkragting verskyn. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder, Phaladi Shuping, het op 7 September toe die seuns verskyn het gesê hofverrigtinge is vir verdere instruksie van die Direktoraat van Openbare Vervolging uitgestel.

Daar is op 7 Junie op die HTS Louis Botha se skoolterrein 'n selfoonvideo van die voorval gemaak en dit is later op sosiale media versprei. Die seuns is vroeër deur die hof in die sorg van hulle ouers vrygelaat.


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.