Click on the warning image to view this post
Local News
Tieners hof toe oor beweerde verkragting by skool─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:10 Sat, 17 Jun 2017
Bloemfontein - Seuns van HTS Louis Botha in Bloemfontein sal Maandag na verwagting in die plaaslike kinderhof verskyn in verband met die verkragting van 'n tienermeisie van dié skool op die skoolterrein verlede week.
OFM-nuus het Donderdag berig van 'n selfoonvideo met leerlinge van dié skool wat wyd op sosiale media versprei word. In die video word 'n jong meisie in haar skoolklere teen haar wil betas deur twee seuns, ook in hul skoolklere, terwyl dit op 'n selfoonvideo deur iemand, vermoedelik 'n leerling, vasgelê word.
Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, sê nog niemand is in hegtenis geneem nie, maar betrokkenes sal na verwagting Maandag aangekeer word op 'n klag van verkragting en sal dieselfde dag in die kinderhof verskyn.
Volgens haar het seuns die betrokke meisie op 7 Junie misbruik nadat sy dronk was en haar bewussyn verloor het. Sy was by die skool vir ekstra klasse waarna sy en van haar vriende na bewering drank gekoop het en dit onder 'n boom by die skool gedrink het. Haar vriende het haar daar gelos toe hulle gesien het sy is dronk. Die seuns het haar daar gevind.
Mbambo sê terwyl twee seuns die besope meisie seksueel aangerand het, het twee ander seuns dit glo met 'n selfoon afgeneem.
Die meisie is daarna per ambulans na 'n hospitaal in die stad gebring. Sy kon glad nie die voorval onthou toe sy in die hospitaal wakker geword het nie.
Die meisie se familie het dié voorval Dinsdag by die polisie aangemeld.
Intussen het die provinsiale LUR van Onderwys, Tate Makgoe, in 'n verklaring gesê daar is opdrag gegee dat die betrokke seuns onmiddellik geskors word.
Luidens die verklaring is Makgoe "geskok, gewalg, teleurgesteld en kwaad" oor die betrokke skoolkinders se optrede.
Die departement werk nou saam met die polisie om te verseker dat daar opgetree word teen die oortreders wat duidelik in die selfoonvideo uitkenbaar is.
Mbambo het ook bevestig dat die polisie en die department saamwerk veral omdat "dit minderjariges is wat betrokke is".
Die onderwysdepartement, in samewerking met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die betrokke leerlinge se ouers, wil ook toesien dat berading aan dié leerlinge gegee word. Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, sê in die verklaring die gruwelike gedrag is ontoelaatbaar en dit moet ten sterkste deur mense veroordeel word.
Medewerker: Moeketsi Mogotsi/OFM-nuus