On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Local News

Produksie by twee Lonmin-mynskagte dalk ná betogings hervat

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:02 Fri, 12 May 2017

Produksie by twee Lonmin-mynskagte dalk ná betogings hervat | News Article

Die Lonmin Platinum-myn kan moontlik teen die naweek produksie by twee van sy skagte by Marikana in Noordwes hervat.


Dit kom nadat dié myn se E2- en E3-skagte sedert 2 Mei vanjaar tydelik gesluit is weens betogings deur sekere gemeenskapslede van die groep 'Die Werklose Jeug van Bapo Ba Mogale'. Dié groep betoog onder meer oor permanente werksgeleenthede en myntoerusting is beskadig, terwyl mynwerkers geïntimideer is. Woordvoerder van die myn, Wendy Tlou, sê senior en uitvoerende bestuurslede, wat onder meer afdelings soos menslike hulpbronbestuur en finansies verteenwoordig, het gister by Marikana met belanghebbendes van dié Bapo Ba Mogale-groep vergader.

Die hoofbesprekingspunte was die staking en die betogings. Tlou sê die vergadering het goed afgeloop en die situasie sou deurnag gemonitor word. ‘n Finale besluit om produksie te hervat by dié skagte sal eers geneem word hangende die situasie vandag.

Tlou, wat tans in Londen is, het gisteraand van die algemene bestuurder van dié twee betrokke skagte verneem dat ‘n besluit om bedrywighede te hervat afhang van die situasie vandag, maar daar is ‘n moontlikheid dat produksie teen die naweek kan begin.

Verteenwoordigers van dié Bapo Ba Mogale-groep het vanjaar op 10 April ‘n griefskrif aan die myn oorhandig. Daarin word werksgeleenthede (werwing deur die myn), opleidingsgeleenthede, eienaarskap en bestuur van ‘n mynskag (1-Skag) geëis. Werksgeleenthede is beklemtoon. Die Bapo Ba Mogale-groep het vandeesweek egter daarop aangedring dat Lonmin 1 000 permanente werksgeleenthede moet skep. Tlou meen in die stadium is dit nie moontlik nie weens die myn se ekonomiese beperkings. “Daar is uitdagings wat ons as ‘n organisasie het vanuit ‘n geldelike oogpunt en die menslike hulpbron bestuursprosesse wat gevolg moet word.” Daarmee saam het Lonmin verlede jaar sowat 6 000 werknemers verloor weens afleggings. “Daar is geen manier dat ons dit kan bekostig om 1 000 permanente werksgeleenthede te skep nie as daar na die maatskappy en die platinumgroep-metale se situasie gekyk word nie.” Lae pryse en ‘n ongunstige wisselkoers is groot uitdagings.

Tlou sê kontrakteurs wat dienste aan die myn verskaf, is egter nou aan boord met betrekking tot beskikbare heeltydse werksgeleenthede en werwingsprossesse. Daar is ook onderneem dat beskikbare geleenthede betyds geadverteer gaan word en gemeenskappe sal op die hoogte van sake gehou word rakende dié geleenthede.

Nog ‘n vergadering tussen belanghebbendes sal na verwagting vandag plaasvind.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.