Local News
ANC Noordwes staan by Molefe─── DANE BEISHEIM 14:07 Mon, 20 Feb 2017
Klerksdorp - Die ANC in Noordwes staan by sy besluit om die voormalige uitvoerende hoof van Eskom te nomineer om 'n vakature in die Nasionale Vergadering te vul.
Dit, volgens provinsiale partywoordvoerder, Gerald Modise, nadat vrae in die media geopper is oor watter tak Molefe aan behoort. Molefe het Eskom verlede jaar verlaat nadat hy in die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor Staatskaping geïmpliseer is. Hy was glo gereeld in kontak met die berugte Gupta-familie, en het glo hul Saxonwold-woning 19 keer besoek. Modise sê egter dat Molefe 'n gerespekteerde lid van die party in die provinsie is, dat hy in Hartbeespoortdam woon, en dat hy in Wyk 29 in die Madibeng Munisipaliteit geregistreer is.
"Dit is jammer dat lede uitpraat oor sake waarvan hulle geen kennis dra nie, en gerugte en propaganda versprei teen mnr. Molefe. Hy is 'n baie geloofwaardige leier van die ANC, en het onder sy leierskap die situasie by Eskom en in ander areas waar hy in strategiese posisies ontplooi is, omgekeer," voeg Modise verder by.
OFM-nuus