On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Local News

Skade op plase ná swaar reën, maar boere steeds dankbaar

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:52 Tue, 15 Nov 2016

Skade op plase ná swaar reën, maar boere steeds dankbaar | News Article
Foto: Uitgeryk/Koos van Niekerk

Bloemfontein - Swaar reën en hael, wat die naweek sporadies voorgekom het in die noordelike deel van die Vrystaat, het skade op verskeie plase aangerig, maar boere is steeds dankbaar vir elke druppel.


Vrystaat Landbou sê talle boere wat geraak is, het gister met skadeberekening op hul plase begin. Neerslae van tussen 30mm en 200mm is Vrydag binne ‘n bestek van vier uur in Parys gemeet. 

Voorsitter van dié landbouvereniging, Kobus Dannhauser, sê sporadiese wolkbreuke het voorgekom. 

Daar was erge haelskade aan sojaboon-aanplantings asook spoelskade in landerye. Pakhuise se dakke het afgewaai en implemente is beskadig. 


By Koppies het talle dakke in die slag gebly. Huise is ook oorstroom. ‘n Lid van die Gottenburg-landbouvereniging by Heilbron, Koos van Niekerk, het sowat 60 stuks wild verloor. 

Bokke en van sy skape is deur die hael doodgeslaan, terwyl ander verdrink het. Hy sê tot 236mm reën het binne 24 uur geval.

Volgens hom raak die skade boere se sakke, terwyl die reën wel verligting bring. 

“Ons is baie dankbaar vir die reën.” 

Hy sê dit is ‘n welkome sig nadat boere die afgelope ses jaar swaar gebuk gegaan het onder die droogte. Ondergemiddelde reënvalsyfers of geen reën het voorgekom. Hy meen boerdery is ‘n moeilike bedryf. 

Buitestanders weet nie wat in dié bedryf aangaan of wat die uitdagings vir boere is nie. Diefstal op plase is ‘n probleem. Snags moet boere gebiede patrolleer en bedags op die plase werk. 

Daar is groot geldelike uitdagings en natuurrampe soos haelstorms bemoeilik die situasie vir boere. Volgens hom het twee erge haelbuie die afgelope maand skade op sy plaas aangerig.

In die Bothaville- en Wesselsbron-distrik is koringaanplantings deur hael getref toe dit Vrydagmiddag tussen 60mm en 100mm gereën het.

OFM-nuus

Gallery

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.