Local News
Vrystaat steek Noord-Kaap verby in uitwissing van emmerstelsel─── CATHY DLODLO 15:07 Mon, 10 Oct 2016
![Vrystaat steek Noord-Kaap verby in uitwissing van emmerstelsel Vrystaat steek Noord-Kaap verby in uitwissing van emmerstelsel | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_20161010151027.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Bloemfontein - Die Vrystaat het die Noord-Kaap verbygesteek in sy pogings om die emmerstelsel uit te wis.
Dit volg nadat die Vrystaat teen die begin van die vorige boekjaar as die provinsie met die grootste agterstand aangewys is. Alhoewel die ander agt provinsies ook ‘n afname in die aantal emmers getoon het, is ‘n styging in die Vrystaat in die aantal emmers wat uitgewis moet word, geregistreer.
Die nuuste statistieke oor die vordering van dié projek landwyd, wys egter dat die Noord-Kaap nou die grootste aantal uitstaande bouwerke het. Landwyd moet daar nog 794 toilette gebou word en meer as 560 hiervan is in die Noord-Kaap.
Water en Sanitasie Minister, Nomvula Mokonyane, het in ‘n vraag in parlement gesê dat die bouwerk in dié provinsie erg bemoeilik word deur die rotsformasies op die bouterrein wat meestal gesofistikeerde masjiene benodig.
In sommige dorpe moet aansluitings tot die watervoorsieningstelsel meer as 50 kilometer ver aangelê word. Boumateriaal is ook nie altyd beskikbaar in afgeleë dorpe in die provinsie nie.
OFM-nuus