Local News
Rekord-eksamen vir matrieks begin môre─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:30 Wed, 31 Aug 2016
![Rekord-eksamen vir matrieks begin môre Rekord-eksamen vir matrieks begin môre | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_2016831131113.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Bloemfontein - Meer as 29 000 matriekleerlinge in die Vrystaat lê vanjaar die rekord-eksamen af.
Die leerlinge tel môre hul penne saam met gr.12-leerlinge oor die land heen op om hul kennis te toets.
Woordvoerder van die Departement van Onderwys, Howard Ndaba, sê alles is in plek vir die eksamen wat tot 29 September duur. Hy sê al die vraestelle word deur die provinsiale departement opgestel en deur die nasionale onderwysdepartement gemodereer. Volgens hom is dit ‘n belangrike eksamen vir leerlinge ter voorbereiding van die eindeksamen wat op 19 Oktober begin en tot 29 November duur.
Ndaba moedig leerlinge aan om hul bes te doen.
Hy stel voor dat leerlinge saamwerk in kleiner studiegroepe om hersiening te doen. Hulle moet ook gebruik maak van beskikbare hulp wat deur die departement aangebied word. Dít sluit ‘n projek van die provinsiale departement in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) in. Die projek behels interaktiewe leersessies in verskillende vakke wat daagliks deur hoogs bekwame leerkragte vanuit ‘n ateljee op die internet in stroomuitsendings aan leerlinge en onderwysers van sowat 60 skole in die provinsie aangebied word. Die sessies word in onder meer vakke soos wiskunde, rekeningkunde en ekonomie aangebied. Opnames van dié sessies word ook later aan leerlinge beskikbaar gestel.
Volgens Ndaba moet matriekleerlinge in die rekord-eksamen genoeg slaap kry en ‘n gebalanseerde dieet volg. Hulle moet ook die nodige skryfbehoeftes soos penne, potlode, uitveërs en sakrekenaars saamneem wanneer hulle eksamen gaan skryf.
OFM-nuus