Local News
Cornelia de Wet/Mangaung-legkaart moet nog ontrafel word─── LANI FOUCHÉ 15:17 Tue, 05 Nov 2013
Lani Fouché
Kimberley - Die verregse vrou wat verlede week beweer het dat sy en drie mans die ware moordenaars van die Steenkamp-gesin van Griekwastad was, Cornelia de Wet, se naam word nou in die Mangaung-verregses se saak genoem.
Die hoofondersoekbeampte in die verregses-verhoor, Francois Laux, het vandag De Wet se verklarings ontvang wat hy aan die staatsaanklaer beskikbaar sal stel.
Hy sê hy het verneem dat sy inligting het wat relevant tot sy ondersoeke is, maar dit is nog onduidelik hoe die legkaart inmekaar pas.
De Wet het beweer dat sy en drie mans deur ‘n sekuriteitsmaatskappy betaal is om boere in die gebied dood te maak, en dat die Steenkamp-gesin van hul slagoffers was.
Sy was vir ‘n paar dae in Kimberley in aanhouding, maar is vandag weer teruggeneem Middelburg toe waar sy vir die besit van plofstof en ammunisie aangehou word.
Intussen gaan die verhoor van die minderjarige beskuldigde, wat verdink word van die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp op hul plaas Naauwhoek verlede jaar, in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley voort.
Drie plaaswerkers het tot dusver vandag getuig.