On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Ingryping dringend in Mosambiek geëis

───   14:30 Mon, 11 Nov 2024

Ingryping dringend in Mosambiek geëis | News Article
Die land van 34 miljoen mense betoog terwyl veiligheidsmagte voortdurend die strate patrolleer. Foto: X

Burgerlike samelewingsgroepe doen ’n beroep op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) om in Mosambiek in te gryp.

Meer as 80 Zimbabwiese burgerlike samelewingsgroepe vra die SAOG-voorsitter, Emmerson Mnangagwa, om dringend op te tree. Harare sal eersdaags ’n buitengewone beraad aanbied. Maar die burgerlike samelewing sê dit kan te laat wees. 

Die SAOG se prof. Kula Theletsane sê die volgende stap is om die “die paneel van oueres” te ontplooi om met die betrokke partye te vergader om ’n vriendelike oplossing te vind.

Die nasionale weermag is ook in Mosambiek ontplooi om die orde te herstel ná weke se betogings teen die regerende Frelimo-party, wat daarvan beskuldig word dat hy verlede maand verkiesingsbedrog gepleeg het om sy 49-jarige bewind te verleng.

Vir weke lank het Mosambiekers die strate ingevaar en betoog teen die uitslae van die verkiesing wat op 9 Oktober gehou is. Die land se leiers het gehoop dat die politieke krisis homself sal oplos.

Die betogings het egter toegeneem en minstens 30 mense is dood in byna drie weke van onderdrukking van betogings wat uitgebreek het in die nasleep van die omstrede presidensiële verkiesing, volgens Human Rights Watch (HRW). EU-waarnemers het wydverspreide onreëlmatighede in die verkiesing aangemeld terwyl waarnemers van die SAOG dit vry en regverdig verklaar het. 

Op 24 Oktober is die regerende Frelimo-party, wat aan bewind is sedert die Suider-Afrikaanse nasie se onafhanklikheid van Portugal 49 jaar gelede, as oorwinnaar in die verkiesing verklaar met meer as 70% van die stemme. Wat eens as ’n party van hoop en bevryding vir Mosambiek was, word nou as ’n beweging beskou wat uit voeling met die massa is.

Die party word geteister deur sake van korrupsie en swak bestuur.

Die land van 34 miljoen mense in Suider-Afrika betoog sedertdien terwyl veiligheidsmagte voortdurend die strate patrolleer. Baie mense sluit hulself in hul huise toe.

Verlede week het die konflik ’n gevaarlike wending geneem, met verwoestende gevolge vir ekonomiese aktiwiteite. Suid-Afrikaanse owerhede is gedwing om grense met Mosambiek te sluit. Honderde vragmotors wat goedere van en na Mosambiek vervoer het, het weerskante van die grense parkeer terwyl die betogings vererger het.

Die Ressano Garcia-grenspos, op die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika, het Saterdag heropen, ná twee dae van volledige sluiting veroorsaak deur die vernietiging van doeane- en immigrasiegeriewe tydens betogings teen die uitslag van die algemene verkiesing op 9 Oktober.

Die woordvoerder van die Mosambiekse Belastingowerheid (AT), Fernando Tinga, het tydens 'n Maputo-mediakonferensie gepraat en aan verslaggewers gesê die sluiting van dié grenspos het ’n skadelike impak op die land se ekonomie gehad, aangesien soveel van die voedsel wat in die suide van Mosambiek verbruik word vanaf Suid-Afrika ingevoer word.

Tinga sê dat die grenspos vir agt dae gedeeltelik of volledig gesluit was en skat  die inkomsteverlies op sowat $6,3 miljoen.

‘Grenspos is nou ten volle in werking’

Ten spyte van die erge skade wat deur die betogings aangerig is, het Tinga daarop aangedring dat die grenspos nou ten volle in werking is vir die verwerking van reisigers, voertuie en goedere. Veiligheidsmaatreëls is aan beide kante van die grens ingestel.

“Voorwaardes is in plek sodat almal wat deur die grens gaan dit kan doen sonder abnormale situasies wat hul veiligheid bedreig,” sê hy.

Hy het daarop aangedring dat die wettigheid van alle handelsware wat Mosambiek binnekom of verlaat, gewaarborg kan word.

Namate onrus ná die verkiesing voortduur, pleit landsburgers dat die veiligheidsmagte internasionale wetstoepassingstandaarde moet volg om openbare vertroue te herbou. Bekommerde regerings moet die Mosambiekse owerhede druk om die gebruik van oormatige geweld te beëindig. 

Talle meen Mosambiek se bure moet optree om te verseker dat die betogings nie versprei nie. Hulle moet dit vir die mense van Mosambiek en hul eiebelang doen.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.