On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

International

Massiewe betogings breek in Mosambiek uit ná betwiste verkiesing

───   11:41 Sat, 26 Oct 2024

Massiewe betogings breek in Mosambiek uit ná betwiste verkiesing | News Article
Om mobiele internet te ontwrig is ’n algemene taktiek wat gebruik word om betogings in baie lande te onderdruk. Foto: X

Politieke spanning neem toe in Mosambiek nadat betogings teen die herverkiesing van die regerende Frelimo-party in geweld ontaard het.

Betogings het Donderdag (24/10) uitgebreek met honderde opposisie-ondersteuners wat beweer dat die plaaslike verkiesing deur ’n “korrupte” verkiesingskommissie “gesteel” is.

Die verkiesingskommissie het Donderdag die Frelimo-kandidaat, Daniel Chapo, aangekondig as die wenner van die verkiesing wat op 9 Oktober gehou is, met 71% van die stemme. Dit het ’n woedende reaksie van ondersteuners van die opposisie ontlok. 

Verdere sporadiese betogings het Vrydag in die hoofstad Maputo ontstaan, waar strate besaai was met gebreekte glas, brandende bande en ander rommel. Maputo het intussen Vrydag ook ’n mobiele internetonderbreking ondervind. 

Die BBC het vroeër berig die onlangse moorde op twee hooggeplaaste lede van die Podemos politieke party in Mosambiek het skokgolwe deur die land gestuur. Elvino Dias en Paul Guambe is in die vroeë oggendure van 19 Oktober in ’n koeëlreën in die hoofstad Maputo vermoor.

Die leier van die Podemos-party, Venancio Mondlane, het die regerende Frelimo-party daarvan beskuldig dat hy agter die moorde was, ’n aanklag wat die regering ontken.

Die moorde het op 19 Oktober plaasgevind – tien dae nadat die land in nasionale verkiesings gestem het. Volgens die regering was die proses vry en regverdig, maar volgens opposisiepartye is dit deur ’n verkiesingsfoefie geskend. Frelimo het die verkiesing glo gewen met 70% van die stemme, en Podemos het tweede gekom met 20%.

Die verkiesingsowerheid word daarvan beskuldig dat hulle ten gunste van die Frelimo-party optree wat al 49 jaar aan bewind is, sedert onafhanklikheid van Portugal in 1975 toe Frelimo die eerste keer die bewind oorgeneem het.

'n Inwoner het Vrydag (25/10) op X gesê “ná die bekendmaking van bedrieglike presidensiële verkiesingsuitslae in Mosambiek, is internetdienste vir alle selfoonoperateurs gesluit.

“Dieselfde week het burgers betogings gehou en demokrasie geëis, met sosiale media as die hoofplatform vir kommunikasie.

“Dit is ook deur sosiale media dat bewyse van menseregteskendings, verkiesingsbedrog en korrupsie deur die huidige regime gedeel word.

“Om mobiele internet te ontwrig is 'n algemene taktiek wat gebruik word om betogings in baie lande te onderdruk.

Die internetonderbrekings by verskeie mobiele diensverskaffers het Maputo getref, volgens AFP-verslaggewers. “Ons kan ’n byna totale ontwrigting van mobiele internetverbinding in Mosambiek bevestig”, wat “waarskynlik dekking van gebeure op die grond sal beperk”, het internetonderbrekingsmonitor Netblocks aan AFP gesê.

Verkiesingswaarnemers van die Europese Unie het Vrydag “die gewelddadige verspreiding van betogers en die politieke geweld” veroordeel en “alle partye aangemoedig om hulself van geweld te weerhou”.

Hulle het in ’n verklaring gewaarsku dat Donderdag se aankondiging van die uitslae “nie kommer uit die weg geruim” het oor die stemtelling nie en het ’n beroep op “maksimum deursigtigheid” van die verkiesingsowerhede gedoen.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.