On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Olimpiese openingseremonie – jou leunstoelgids

───   13:30 Fri, 26 Jul 2024

Olimpiese openingseremonie – jou leunstoelgids | News Article
Kunstenaars se illustrasie van bote op die Seine-rivier tydens die 2024-openingseremonie in Parys. Foto: Florian Hulleu

“Atlete sal in 2024 die hart en siel van die openingseremonie wees.”

Vrydagaand (26/7) se Olimpiese openingseremonie gaan na verwagting ’n skouspel vol verrassings wees wanneer ’n verwagte 10 000 atlete op die Seine-rivier deur die hartjie van Parys paradeer.

Die seremonie begin om 19:30 (SA tyd) en sal glo net minder as vier uur duur, berig die BBC

Vloeiende seremonie

Vir die eerste keer sal die openingseremonie nie in ’n stadion plaasvind nie, maar in die hartjie van 'n stad. Die wêreld se Olimpiese spanne, met meer as 10 000 atlete, gaan sowat 6 km in bote op die Seine vaar terwyl sowat 300 000 toeskouers die vertoning gaan bywoon.

Die flottielje sal meer as 10 000 atlete langs ’n 6 km (3,7 myl) roete met die waterweg vervoer, wat deeglik ondersoek is vir sy netheid.

Vroeër vanjaar het pres. Emmanuel Macron erken dat ’n plan B (en ’n plan C) saamgestel is ingeval die uitdagings onoorkomelik blyk te wees. Die reuse-veiligheidsoperasie sluit ook polisielede van Suid-Afrika in. 


Glorieryke Stad van Lig

Die bote sal al langs die stad se bekendste brûe en landmerke verby vaar – insluitend die Notre-Dame-katedraal en natuurlik die Eiffeltoring – voordat hulle die Trocadéro bereik. Die Trocadéro is bekend as ’n stadsdeel met ’n pragtige uitsig op die Eiffeltoring.

As die weer saamspeel, sal die son skouspelagtig oor die stad se weste sak en die legende van die Stad van Ligte verder vestig.

Organiseerders belowe kameras op elke boot sal die sportsterre van nader wys.

Musiek veroorsaak onmin

Min is bekend oor die 3 000 kunstenaars – musikante en dansers op brûe – en daar is geswyg oor watter bekendes die skare gaan vermaak.

’n Kultuuroorlog het amper uitgebreek oor die sanger(s) se voorgestelde rol in die Olimpiese Spele. Nadat die Kanadese ster Céline Dion – wat in Frans en Engels sing – vroeër vandeesweek in die Franse hoofstad opgemerk is, het talle oor haar betrokkenheid bespiegel. Lady Gaga is ook in Parys opgemerk – wat gerugte aanwakker dat sy haar eie rol kan speel.

Talle geheime

Nog ’n geheim is die fakkeldraer en hoe die Olimpiese ringe aangesteek gaan word.

Die Paralimpiese boogskutter Antonio Rebollo het in 1992 die Olimpiese fakkel in Barcelona aangesteek.

Die Olimpiese fakkel het van Griekeland na die Franse hoofstad gereis in ’n enorme aflos wat meer as drie maande gelede begin het.

Onder diegene wat die fakkel tot dusver gedra het, is die Franse oudsokkkerspeler Thierry Henry en die judoster Romane Dicko. Die rapper Snoop Dogg sal ook 'n rol speel om die fakkel in die laaste fases van die aflos te dra voordat die openingseremonie begin.

Stylvolle affêre

Voorkoms is groot in dié modehoofstad, selfs wanneer die Olimpiese Spele geopen word.

Amerika en Brittanje se span word deur onderskeidelik Ralph Lauren en Ben Sherman uitgerus. Ander opvallende uitrustings is dié deur Stella Jean, wie se skeppings vir Haïti ontwerp is as ’n lewende beeld van dié Karibiese nasie.

Die byeenkoms se organiseerders sê sowat 3 000 unieke kostuums is gemaak vir die Olimpiese en Paralimpiese openings- en afsluitingseremonies in ‘n werkswinkel naby Parys. Daar sal baie van herwinde materiaal gebruik gemaak word aangesien die Spele sy groen ingesteldheid wil beklemtoon.


Sportsterre en (letterlike) koninklikes

Benewens sport-supersterre word bekendes en hoogwaardigheidsbekleërs ook in die skare verwag, met meer as 100 staatshoofde en regerings wat dit sal bywoon.

Jill Biden, die Amerikaanse presidentsvrou, en pres. Javier Milei van Argentinië, is van die verwagte gaste saam met Macron en Thomas Bach, Olimpiese hoof.

In Junie 2024 het die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie, Olimpiese en Paralimpiese Komitee (Saskok) Suid-Afrika se spanverteenwoordiging vir die Olimpiese Spele in Parys ’n aansienlike hupstoot gegee toe bykomende name en sportkodes tydens die tweede aankondiging in Johannesburg bekend gemaak is. Saskok het ook verdere finansiële aansporings vir medaljewenners geopenbaar.

Drie weke voor die openingseremonie van die Parys-spele het Saskok ’n bygewerkte lys van atlete en bestuur uitgereik wat gekies is om Span Suid-Afrika te verteenwoordig.

Suid-Afrikaanse kykers kan uitgebreide dekking van die Olimpiese Somerspele 2024 geniet, wat met die openingseremonie Vrydagaand begin. Alle daaropvolgende mededingende geleenthede sal op ’n verskeidenheid SuperSport-kanale uitgesaai word wat beskikbaar is op MultiChoice se DStv, SABC, Showmax en die amptelike Olimpiese Spele-webwerf.

Atlete is vanjaar die hart en siel van die openingseremonie. Deur met die parade van atlete te begin, verbreek Parys 2024 die tradisie. Atlete sal tydens die inleiding en dwarsdeur die seremonie op die verhoog verskyn as deel van Parys 2024 se voortdurende doel om Spele voor te hou as iets wat vir en deur atlete geskep is.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.