On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

90-jarige skilpad word vir eerste keer pa

───   17:28 Thu, 23 Mar 2023

90-jarige skilpad word vir eerste keer pa | News Article
Dill, Gherkin en Jalapeño is hul pa, die 90-jarige Mr. Pickles, se eerste nageslag.

Dit het amper ’n eeu geduur, maar ’n 90-jarige straalpatroonskilpad genaamd Mr. Pickles het pas die pa van drie skilpadjies geword.

Die drietjies, Dill, Gherkin en Jalapeño, is Mr. Pickles se eerste afstammelinge. Hulle woon in die Houston-dieretuin in Texas.

Mr. Pickles se lewensmaat en die moeder van sy broeisel is die veel jonger Mrs. Pickles, slegs 53 jaar oud. Hulle is ’n paartjie sedert Mrs. Pickles in 1996 haar opwagting by die dieretuin gemaak het.

Straalpatroonskilpaaie is inheems aan Madagaskar en ’n kritiek bedreigde spesie, hoofsaaklik omdat, soos in die geval van Mr. en Mrs. Pickles die spesie sy tyd neem as dit by voortplanting kom. Dié skilpaaie is ook gesog onder stropers.

Teelprogramme lewer wel nuwe straalpatroonskilpaaie op, maar kenners sê die reptiel kan in die natuur uitsterf.

Mr. Pickles word beskou as die mees geneties waardevolle straalpatroonskilpad in die Vereniging van Dieretuine en Akwariums se oorlewingsplan vir spesies.

’n Opsigter by die dieretuin het toevallig gesien dat Mrs. Pickles eiers gelê het. Die eiers is toe na die reptiel- en amfibiehuis, wat ’n meer gunstige klimaat het, verskuif. “Die eiers sou waarskynlik nie op hul eie uitgebroei het nie, want Houston se grond is nie gepas vir inheemse skilpaaie van Madagaskar nie.”

Dill, Gherkin en Jalapeño woon nou in die reptiel-en-amfibiehuis totdat hulle groot genoeg is om by hul ouers aan te sluit.

Die dieretuin onderskei die drietal aan hul doppe: Jalapeño het die donkerste dop, Dill se dop is ligter en Gherkin se ligter dop het 'n wit kolletjie in die middel.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.