International
Ma laat vaar eis teen boer wat glo haar kind doodry─── 16:59 Thu, 23 Mar 2023
Die ma van ’n negejarige Namibiese meisie wat in Mei 2022 in Mariental dood is nadat ’n boer van die omgewing haar glo met sy bakkie omgery het, het haar onttrek aan ’n saak om skadevergoeding van hom te eis.
Die negejarige Hendrina Mupolo se ma, Anne-Marie !Aochmus, sê “sy soek niks" van Johan van Meyer (50).
Hendrina is op 1 Mei 2022 dood nadat sy en haar ma en ander inwoners van die omgewing op dié dag na Meyer se plaas is om oorskotbone te oes, berig Republikein.
Meyer het glo met sy Land Cruiser-bakkie op die toneel opgedaag en na bewering eers ’n jong seun verjaag, waarna hy glo op Hendrina afgepeil het. Sy is glo getref terwyl sy uit die pad van die bakkie probeer weghardloop het.
Sy het later dieselfde dag aan haar beserings in die Mariental-hospitaal gesterf.
Haar pa, Elias Mupolo, het ná haar dood ’n prokureur, Norman Tjombe, opdrag gegee om meer as N$10 miljoen se skadevergoeding van Meyer te eis: N$5 miljoen vir elkeen van die ouers en N$500 000 vir kostes wat aangegaan is.
!Aochamus het sedertdien verklaar sy soek geen finansiële skikking van Meyer nie en dat sy nog nooit ’n prokureur aangestel het om haar te verteenwoordig nie.
“Hulle het my nooit van die hofdatum of -tyd ingelig nie. Net Elias was bewus van wat besig was om te gebeur, en die enigste keer wat Elias na my toe gekom het, was toe hy wou hê ek moet dokumente van die prokureur onderteken wat ek glo verkeerd is,” het !Aochamus aan die Namibia Daily News gesê.
“Elias was nooit betrokke by my dogter Hendrina se opvoeding nie. Hy tree op asof hy die reg het om eise te stel noudat my dogter oorlede is, so ek wou hê Tjombe moet ophou om namens my te praat.”
!Aochamus sê sy het Tjombe opdrag gegee om die hof toe te laat om die saak te hanteer. Sy sê sy sald ie hofbesluit aanvaar “solank haar dogter rustig rus”.
Mupolo sê die N$5 miljoen is ’n redelike betaling vir sy emosionele pyn en lyding, ongemak, trauma en sielkundige skade wat hy ná die tragedie verduur het.
Meyer het kort ná Hendrina se dood deur sy prokureurs enige aanspreeklikheid aan haar dood ontken.
Hy is sedert Mei 2022 uit op borgtog van N$3 000 nadat hy op ‘n aanklag van strafbare manslag in die hof verskyn het. Die saak word steeds ondersoek.