International
400 jaar oue Bybel kom onder die hamer─── 17:52 Mon, 09 Jan 2023

'n 400 jaar oue Bybel wat in 1633 deur Elizabeth Pole na die destydse Nuwe Wêreld (later die Verenigde State van Amerika) geneem is, word Dinsdag, 10 Januarie 2023 in Ierland opgeveil.
Dié kopie van die Geneefse Bybel word deur Bloomfield-afslaers op tussen £5000 (R103 550) en £10 000 (R206 900) gewaardeer.
Dit is in 1615 gedruk en is in 1633 deur Elizabeth Pole na wat nou as die Verenigde State bekend staan, geneem.
Die Geneefse Bybel was die eerste meganies gedrukte, massavervaardigde Bybel wat aan die publiek beskikbaar gestel is.
Dit is die eerste keer in 1560 gepubliseer – 'n halwe eeu voor die King James-Bybel.
Die uitgawe wat Dinsdag opgeveil word, was in besit van Elizabeth, wat saam met haar broer op die Speedwell-skip na die Plymouth-kolonie gereis het.
Sy was oorspronklik van die Devon-streek in Brittanje en het na haar aankoms in die Nuwe Wêreld die dorp Taunton in Massachusetts gestig - waarskynlik die eerste vrou wat 'n dorp in Noord-Amerika gestig het.
Karl Bennett, besturende direkteur van Bloomfield-afslaers, sê hy verwag wêreldwye belangstelling in die Bybel weens die historiese betekenis en verbintenis met die moderne VSA.
Die Bybel is deur die aartsbiskop van Canterbury aan Elizabeth se pa, sir William Pole, oorhandig ter erkenning van sy dienste aan die kerk en die armes van Devon.
Ná Elizabeth se afsterwe is die Bybel aan haar familie in Devon terugbesorg en het dit tot die middel van die 20ste eeu in die besit van die Pole-Carew-familie gebly, waarna dit aan 'n versamelaar van Noord-Ierland verkoop is.