On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Inspiration

Wenke vir ’n groen grastapyt hierdie somer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Wed, 02 Oct 2024

Wenke vir ’n groen grastapyt hierdie somer | News Article
Foto: iStock

“Dit is belangrik om vroeg in die somer ou, dooie gras met ’n sterk hark te verwyder om plek te maak vir nuwe groei.”

Met die somer om die draai, is dit nou die ideale tyd om met die regte versorgingsprogram vir jou grasperk te begin.

Volgens Efekto het oormatige nat of klam grasperke ook nadelige gevolge, soos wemelende plae! Grasperke wat stilstaande waterpoele het dra ook by tot probleme soos muskiete, vlieë, ander peste en swamme.

Hier is wat om te doen om elke somer ’n groen tapyt te verseker:

  • Maak jou grasperk gereeld nat

Om jou grasperk gesond te hou in die somer, maak seker dat dit ten minste 3 cm water per week kry, hetsy reën of met ’n sproeier. ’n Besproeiingstelsel is ’n goeie, moeitevrye opsie, omdat dit oral water op die regte diepte kan gee en op ’n tydhouer gestel kan word. As jy nie ’n besproeiingstelsel het nie, kan jy ’n tuinslang en sproeier gebruik.

Foto: iStock

  • Maai wat jy saai

Een van die beste maniere om ’n prentjiemooi grasperk te kry, is om dit meer gereeld te sny. Sodoende groei jou gras digter en hou jy ongewenste onkruid weg. Ons is geneig om ons grasperke so kort moontlik te sny, sodat dit net elke twee weke nodig is om die grassnyer uit te haal.

Dit kan egter jou gras se droogteweerstand verminder, en jou gras verswak en beskadig. Stel die lemme van jou grassnyer hoër, sodat jy nie meer as ’n derde van die gras se lengte afsny nie. Dit is veral belangrik vir die eerste sny na die koue winter.

’n Algemene reël is om kikoejoe op ’n hoogte van 4-6 cm te hou, fyner gras soos kweekgras op 3-4 cm, en immergroen gras op ’n hoogte van 6-7 cm.

  • Bemes vir ’n groener grasperk

Dien kunsmis elke 4 tot 6 weke toe om jou grasperk sterk en onkruidvry te hou. Maak seker jy kies die regte kunsmis vir jou grassoort (koel of warm seisoen) en volg die instruksies vir die beste resultate.

Foto: iStock

  • Laat jou grasperk asemhaal

Jou grasperk moet asemhaal om te verhoed dat water opdam en om dreinering verbeter. Hierdie proses behels die maak van klein gaatjies in die grond om water en lug in te laat sirkuleer. Sodoende word gesonder groei bevorder. 

  • Weg met die oue, in met die nuwe

Dooie materiaal, soos ou gras en blare op jou grasperk verhoed dat voldoende water, lug en voedingstowwe by die wortels uitkom. Daarom is dit belangrik om vroeg in die somer ou, dooie gras met ’n sterk hark te verwyder om plek vir nuwe groei te maak.

  • Snoei vir ’n netjiese voorkoms

Indien jy jou grasperk gereeld snoei, sal dit netjies vertoon. Gebruik ’n randskêr of randsnyer vir grasperke, en oorweeg ’n kettingsaag of heiningsnoeier om beheer te hou oor groter gebiede met bome of bosse.


  • Voeg deklaag by vir beter grond

‘n Deklaag help om onkruid te beheer, vog te behou en grondtemperatuur te reguleer. Kies kompos of mis vir vrugbaarheid, of strooi- en basskyfies vir onkruidbeheer. Dekoratiewe opsies soos klippe of houtskyfies kan vir jou beddings ’n afgeronde voorkoms gee.

  • Gebruik onkruiddoder vir hardnekkige onkruid

As jy nie al die onkruid met die hand kan uittrek nie, kan ’n onkruiddoder help. Maak seker dat die produk geskik is vir jou grassoort, en volg alle veiligheidsinstruksies, insluitend die dra van beskermende toerusting.

Deur hierdie stappe te volg, kan jy die hele somer lank ’n gesonde, pragtige grasperk verseker!

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.