On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Inspiration

Paralimpiese Spele 2024: ‘Sport dikwels ’n uitweg uit baie donker tye’

───   08:54 Fri, 06 Sep 2024

Paralimpiese Spele 2024: ‘Sport dikwels ’n uitweg uit baie donker tye’ | News Article
Ellie Challis van Brittanje se sukses is geïnspireer deur ’n dolfyn sonder ’n stert. Foto: X

“Ons is deur soveel om hier te kom en vandag het nog ’n groot droom waar geword.”

Die 2024 Paralimpiese Spele eindig Sondag (8/9) nadat talle toeskouers deur die Paralimpiese atlete se deursettingsvermoë en veerkragtigheid geïnspireer is. Die Spele het verlede Woensdag (28/8) geopen met ’n indrukwekkende seremonie in die hartjie van Parys wat deur meer as 60 000 mense bygewoon is. Dit het dansers, lugvertonings en ’n skouspelagtige vertoning ingesluit.

Hul deursettingsvermoë en veerkragtigheid het mense selfs meer beïndruk ná die struikelblokke wat hulle moes oorkom as gevolg van die pandemie, die rede waarom Tokio 2020 tot 2021 uitgestel is, asook reisbeperkings wat hul kwalifikasie en oefenprogramme aansienlik beïnvloed het. Die atlete se vermoë om aan te pas en te volhard om hul doelwitte te bereik ten spyte van al hul uitdagings is werklik motiverend.

Sheetal Devi

Oor die laaste paar dae was daar verskeie inspirerende verhale van atlete by die Paralimpiese Spele. Neem byvoorbeeld die Indiese atleet Sheetal Devi wat nie arms het nie wat aan boogskiet deelneem en selfs ’n medalje (bronsmedalje in gemengde spansamestelling) in Parys gewen het, berig firstspost.com.

Devi is in 2007 gebore met phocomelia, ’n seldsame aangebore afwyking wat tot onderontwikkelde ledemate lei. Sy gebruik haar voete tydens boogskietkompetisies.

Sheetal het as kind dit geniet om boom te klim deur net haar bene te gebruik. Dit was tydens ’n weermagkamp in 2019 wat die Indiese weermag kennis geneem het van Sheetal se atletiese talent en sy is sedertdien ondersteun in terme van onderwys en mediese bystand.

Sheetal Devi. Foto: X

Sy het in 2022 vir die eerste keer met boogskiet kennis gemaak. Sy het verlede jaar goud gewen in die individuele ope- en gemengde span-ope-byeenkomste by die Asiatiese Spele in Hangzhou en silwer in die vroue-dubbelspel-ope.

By die 2023 Wêreld Para-kampioenskappe was die Amerikaanse legende Matt Stutzman daar en hy was beïndruk met haar toe sy ’n individuele silwer medalje gewen het.

Sheetal het onlangs brons by die Parys Paralimpiese Spele in die gemengde span saamgestelde ope-toernooi gewen, nadat sy met Rakesh Kumar saamgespan het.

Mhlengi Gwala

Mhlengi Gwala se reis ná ’n wrede aanval in Durban tot die punt waar hy Suid-Afrika by die Parys 2024 Paralimpiese Spele verteenwoordig, versinnebeeld veerkragtigheid en triomf oor teëspoed.

Die goodthingsguy berig in die vroeë oggendure van 6 Maart 2018 is Gwala, ’n opkomende ster in sy twintigs wat vir internasionale driekamp geoefen het, deur drie mans aangeval. Hy het pyn verduur wat sy lewe onherroeplik sou verander.

Tydens ’n oefensessie het sy aanvallers hom van sy fiets afgetrek en sy bene probeer afsaag. Tog het hierdie ontstellende voorval nie Gwala se gees gebreek nie; dit het eerder die weg gebaan vir ’n nuwe hoofstuk in sy lewe as para-atleet.

‘Reeds drie keer as die Afrika-kampioen gekroon’

Gwala het na vore getree as ’n formidabele figuur in para-atletiek. Hy het beheer oor sy lot geneem en met ’n BackaBuddy-veldtog deur ’n vriend sy reis na die Paralimpiese Spele van Parys 2024 aangepak waar hy saam met 4 400 ander atlete meeding.

Hy is reeds drie keer as die Afrika-kampioen gekroon en het goeie plekke in verskeie internasionale kompetisies behaal. “Die mense van Suid-Afrika en oor die wêreld heen is diegene wat my aan die gang gehou het. Hul ondersteuning en wense – en my kinders – is wat my aan die gang gehou het,” het Mhlengi gesê.

Dayna Crees

Australië se Dayna Crees het onlangs brons gewen in die F34-eindstryd vir vroue se spiesgooi by die Parys Paralimpiese Spele. Hoewel daardie prestasie een sal wees wat sy vir die res van haar lewe sal koester, het sy nie ’n aangename ervaring in haar hoërskooldae gehad nie. Crees is sedert haar geboorte met oorerflike spastiese paraplegie gediagnoseer, ’n toestand wat die spiere verswak.

Sy het die hoërskool verlaat omdat sy oor haar gestremdheid geboelie is. Sy was ’n relatief onbekende figuur onder Australië se baan-en-veldspan in Parys.

‘Ek het ’n moeilike tyd op skool beleef’

In Frankryk waar sy haar Paralimpiese debuut gemaak het, het sy haar persoonlike rekord drie keer verbeter en onthul dat sy Vegemite op roosterbrood vir ontbyt, asook ’n pakkie suigstokkies gehad het en baie water gedrink het. “Ek dink dit is my nuwe ontbyt vir kompetisie dae,” het Crees ná die kompetisie gesê.

“Ek het ’n moeilike tyd op skool beleef, ek is baie geboelie.” Sy was vir drie jaar op anti-depressante en het ’n psigiater gesien. As ek nie vir hulp gegaan het nie, sou ek dalk nie vandag in hierdie posisie gewees het nie.

Ellie Challis

Die swemmer Ellie Challis van Brittanje se sukses is geïnspireer deur ’n dolfyn sonder ’n stert. Challis se prestasies is iets besonders aangesien die beginpunt daarvan ’n viervoudige geamputeerde baba was, berig olympics.com.

Nadat sy breinvliesontsteking op 16 maande opgedoen het, is Challis se bene bo die knie en arms onder die elmboog verwyder om haar lewe te red nadat haar hart twee keer gaan staan het. Sy het net ’n 5%-kans op oorlewing gehad.

“Dit het my baie jare geneem om op gesinsvakansies selfversekerd in die water te voel,” het Challis in 'n onderhoud gesê agt maande voordat sy aan Parys 2024 deelgeneem het. Maar dit was toe Challis die fliek, Dolphin Tale, gekyk het dat dinge regtig gekliek het.

As sewejarige het sy in vervoering gekyk hoe Winter, die dolfyn, weer leer swem met ’n prostese nadat haar beseerde stert verwyder is om haar lewe te red.

Daar was duidelike parallelle en die fliek het ’n groot invloed op Challis se lewe gemaak. Sy het selfs haar troeteldierhaas Winter genoem.

Die gesin het die eerste keer na die VSA gereis om Winter in 2013 te ontmoet. Foto: X

“Ek het destyds geleer swem, so dit was een van die dinge wat alles moontlik laat lyk het,” het sy voor die Spele gesê. "Ons het dit gekyk en gedink dit is 'n fiktiewe storie, toe sê dit aan die einde dat dit waar is. Ons het net geweet ons moet Amerika toe gaan om Winter te ontmoet. Ek het ’n paar keer gegaan, en ons het steeds ’n goeie verbintenis met die akwarium in Florida.”

Nog ’n inspirerende oomblik wat Challis grootliks beïnvloed het, was die Paralimpiese Spele in Londen in 2012.

Alessandro Ossola

Die Paralimpiese naelloper Alessandro Ossola van Italië het Sondag een van die beste dae van sy lewe gehad – en dit het niks met atletiek te doen gehad nie.

Ossola kon dalk nie vir die eindstryd van die T63 100 meter kwalifiseer nie, maar die Italianer het ’n "ja" van sy ekstatiese meisie gekry ná die wedloop.

“Jy is gek!” So het Ossola se geskokte lewensmaat Arianna gesê terwyl hy voor 40 000 mense gekniel en haar gevra het om te trou. 

Ossola het in 2015 die grootste deel van sy linkerbeen in ’n motorfietsongeluk verloor. Sy eerste vrou is in dié ongeluk dood. 

Hy beskou sport as ’n “uitweg uit ’n baie donker tydperk,” en voeg by: “Ná my ongeluk het ek baie verloor – alles behalwe my glimlag – maar sport het my gedwing om meer en meer te glimlag.”

Hy het oor die wedloop besin deur te sê: “Sommige sal dalk sê vandag was nie vir my ’n wonderlike dag uit ’n sportperspektief nie. Ek sê dit was. Op 36 jaar oud het ek met die bestes in die wêreld meegeding, en ek is regtig trots daarop.”


Tracy Otto

Net vyf jaar gelede, in Oktober 2019, is die huidige Amerikaanse para-boogskutter Tracy Otto en haar kêrel Ricky Riessle, gewelddadig by Otto se huis in Florida deur haar ekskêrel aangeval. Hy het Otto deur haar linkeroog met 'n hoëkrag-korrelgeweer geskiet, haar herhaaldelik met die vuis geslaan en agter haar nek geslaan. Riessle is ook ernstig beseer.

Vyf jaar sedert daardie grusame voorval, noem Tracy Otto haarself ’n Paralimpiese atleet. By die 2024 Para Pan American Championships het Otto goud in die gemengde span W1 en die individuele W1-byeenkomste gewen. ’n Jaar voor dit het sy aan die 2023 Para Pan American Games deelgeneem, waar sy goud in die individuele byeenkoms gewen het.

“Ek het nooit gedink dat my lewe soveel beter sou uitdraai nie. Om op die wêreldverhoog te wees is so ’n wonderlike ervaring,” het die 28-jarige Otto Donderdag (29/8) gesê. “Ek is net so bly om hier te wees en om as ’n Paralimpiër beskou te word.”

Otto het twee jaar ná die aanval begin boogskiet, waaroor sy openlik praat omdat sy wil hê slagoffers van geweld moet weet hulle is nie alleen nie.

‘Jou omstandighede definieer jou nie’

“Jy moet eerlikwaar vir jouself lief wees daardeur … en aanhou,” het Otto gesê. “Jou omstandighede definieer jou nie. Jy kan enigiets doen waarop jy jou hart sit.”

Vir Otto is boogskiet 'n afleiding van haar posttraumatiese stres. “Boogskiet is 'n groot uitlaatklep vir my, dit help my deur daardie trauma. Om net maniere te vind om dit te hanteer en myself te omring met mense wat vir my lief is en vir my omgee,” het sy gesê.

“Ek is in die rug en in die nek gesteek en hy het my rugmurg afgesny. Dit het veroorsaak dat ek nie my liggaamstemperatuur kan reguleer nie,” het Otto verduidelik. Riessle se geselskap is vir haar van onskatbare waarde. “Hy is my lig. Hy is my alles. Sonder hom sou ek nie hier gewees het nie.”

Somer van Olimpiese en Paralimpiese liefde

Met vanjaar se Spele wat in die Stad van Liefde afspeel, is dit geen wonder dat daar soveel verlowings onder atlete en ander betrokkenes was nie, berig CNN.

Tydens die Olimpiese Spele het die Argentynse handbalspeler Pablo Simonet en die hokkiespeler en landgenoot Pilar Campoy in die Olimpiese dorp verloof geraak, terwyl die Franse atleet Alice Finot ná haar vierde plek en ’n nuwe Europese rekord in die vroue se 3000 meter hindernis, na haar kêrel in die skare gegaan het en om sy hand gevra het.

Ander atlete wat ook nou met troureëlings doenig is, sluit in die Chinese pluimbalspeler Huang Yaqiong en mede-pluimbalspeler Liu Yuchen; die Franse kapteins Charline Picon en Sarah Steyaert; die pluimbalspeler Rogerio Junior Xavier de Oliveira en mede-Brasiliaan Edwarda de Oliveira Dias. 

“Wat ’n ongelooflike oomblik. Dit was ’n pragtige verrassing. Ek het dit nie verwag nie. Ons is deur soveel om hier te kom en vandag het nog ’n groot droom waar geword,” het Dias gesê.

Suid-Afrika het tot dusver die volgende medaljes gewen:

Talle atlete se merkwaardige oorgang van teëspoed na hoop op die Paralimpiese Spele is ’n ondenkbare bron van inspirasie. Dit beklemtoon hoe kollektiewe aanmoediging en ondersteuning individue kan aanspoor om oënskynlik onoorkomelike struikelblokke te oorkom.

OFM Nuus cg/dg c







@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.