On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Inspiration

Eerste dowe Mej. SA wil teruggee aan gemeenskap

───   HEIDRÈ MALGAS 16:00 Mon, 12 Aug 2024

Eerste dowe Mej. SA wil teruggee aan gemeenskap  | News Article
Kutlwano Name (13), het die geleentheid gehad om die nuutgekroonde Mej. Suid-Afrika, Mia Le Roux te ontmoet. Foto verskaf

“Sy vertel sy sien daarna uit om terug te gee aan die gemeenskap wat in haar belê het toe sy net twee jaar oud was.”

Die nuwe Mej. Suid-Afrika sien uit daarna om ’n stem te wees vir mense wat anders is en uitgesluit voel. 

Mia Le Roux (28), ’n boorling van Sasolburg met ernstige gehoorverlies en ’n kogleêre inplanting gefinansier deur haar gemeenskap, is Saterdagaand tydens ’n glansgeleentheid in Pretoria gekroon.

Le Roux is die eerste Mej. SA met gehoorgestremdheid. Die voormalige bemarkingsbestuurder wat deesdae op Oudtshoorn in die Klein-Karoo woon, het ’n kogleêre inplanting gekry toe sy twee jaar oud was danksy ’n geldinsameling deur haar gemeenskap. Sy het ernstige gehoorverlies.

Le Roux is die eerste Mej. SA met gehoorgestremdheid. Foto verskaf

’n Gelukkige meisie van Bloemfontein, Kutlwano Name (13), het die geleentheid gehad om die nuutgekroonde Mej. Suid-Afrika te ontmoet en ’n foto saam met haar te neem tydens ’n ontmoeting met aanhangers. 

“Met ’n nederige en dankbare hart aanvaar ek die ongelooflike verantwoordelikheid om julle Mej. Suid-Afrika 2024 te wees,” het Le Roux in haar aanvaardingstoespraak gesê. “Dit is ’n eer wat my met groot trots en dankbaarheid vul, en die vertroue en selfvertroue wat Suid-Afrika in my stel, raak my diep.

“Kleintyd sou ek nooit gedink het dat iemand soos ek Mej. Suid-Afrika kon word nie. Dit is uiters kragtig wat dit kan beteken vir ander jong meisies – dat al het jy iets wat jou anders maak, jy steeds jou drome kan bereik met vasberadenheid en harde werk.” 


Die Mej. SA -kompetisie het ’n gebaretaaltolk, Andiswa Gebashe, gehad. Gebaretaal is inderderwaarheid Gebashe se huistaal omdat haar pa doof is. Die heel eerste taal wat sy geleer het, was gebaretaal.

“Op die jong ouderdom van twee is ek deur my gemeenskap geseën met die gawe van ’n kogleêre inplanting. Familie, vriende en vreemdelinge het saamgestaan om geld in te samel vir hierdie operasie – ’n lewensveranderende geleentheid wat my in staat gestel het om te hoor,” sê Le Roux.

“Vandag is dit my beurt om julle gemeenskap te wees, om ’n stem te wees vir dié wat, soos ek, die uitdagings ervaar het om anders te wees en uitgesluit te voel. Ek is hier om as julle verteenwoordiger op te tree, om die kwessies te bevorder waarvoor Suid-Afrikaners omgee en ’n ruimte te skep waar elkeen op hul unieke, pragtige manier kan skitter.”

Die voormalige bemarkingsbestuurder wat deesdae op Oudtshoorn in die Klein-Karoo woon, het ’n kogleêre inplanting gekry toe sy twee jaar oud was. Foto: Yolanda van der Stoep

Die vroulike beoordelaarspaneel het bestaan uit Rolene Strauss (Mej. SA en Mej. Wêreld 2014); Leandie du Randt (aktrise, aanbieder, stemkunstenaar, model, skrywer en entrepreneur); Jo-Ann Strauss  gewese Mej. SA); Lerato Kganyago (model en mediapersoonlikheid) en Thembi Seete (aktrise, musikant, multimediapersoonlikheid en model).

Bonang Matheba was weer die gasvrou van die kompetisie terwyl vermaak verskaf is deur Jesse Clegg, Kamo Mphela, Lebo Mashile, Zoë Modiga en die gebaretaalaktivis Andiswa Gebashe.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.