On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Health

Só gemaak om makliker aan die slaap te raak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:30 Mon, 11 Nov 2024

Só gemaak om makliker aan die slaap te raak | News Article
Foto: iStock

Oë toemaak en slaap is vir sekere mense ’n eenvoudige taak, terwyl ander behoorlik moet spook om aan die slaap te raak.

’n Groot verskeidenheid faktore – insluitend leefstyl, stres en omgewing – speel ’n rol wanneer dit by slaaptyd kom. Volgens Better Up kan hierdie struikelblokke met die liggaam se natuurlike slaapsiklus inmeng, wat dit moeiliker maak om te ontspan en ’n rustige nagrus te kry.

Slaapversteurings of angs kan ook die vermoë om te slaap belemmer. Sleep Foundation berig dat die gemiddelde volwassene minstens sewe uur slaap per nag benodig.

Navorsing wys ’n goeie slaaptydroetine bevorder goeie slaapgewoontes by kinders. Volwassenes kan egter ook baat by ontspanningsaktiwiteite voor slaaptyd om slaapkwaliteit te verbeter.

Foto: iStock

Hierdie aktiwiteite kan die volgende insluit

  • ’n Warm stort of bad;
  • Meditasie;
  • Lees;
  • Luister na kalmerende musiek.

Vermy blouligskerms voor slaaptyd

Hoewel dit ontspannend mag voel om op jou selfoon doenig te wees voordat jy gaan slaap, kan die blou lig van skerms met jou slaap inmeng. Navorsing wys blou lig onderdruk melatonien, die einste hormoon wat jou help om aan die slaap te raak.

Blootstelling kort voor bedtyd kan slaap weghou, en ook slaapkwaliteit belemmer.

Foto: iStock

Elektroniese toestelle soos selfone, TV’s, tablette en verligte e-boeke straal almal blou lig uit. Beperk skermtyd in die ure voordat jy gaan slaap, of oorweeg dit om hierdie toestelle heeltemal uit die slaapkamer te hou.

Handhaaf ’n vaste slaapskedule:

Ongereelde slaaptye kan dit moeiliker maak om vinnig aan die slaap te raak. Om saans op dieselfde tyd te gaan slaap en soggens wakker te word, help met regulering van jou liggaam se interne horlosie. Dit is selfs oor naweke belangrik.

Wanneer jy probeer om vroeër bed toe te gaan, oorweeg geleidelike aanpassings van 15 minute per dag. Vermy ook laatmiddag- of vroegaandslapies, aangesien dit jou vermoë om snags aan die slaap te raak in die wiele kan ry.

‘Oorweeg oefenprogramme met lae of matige intensiteit saans’

Gereelde oefening:

Hoewel oefening beslis die sleutel tot beter slaap kan wees, is tydsberekening uiters belangrik. Strawwe oefening net voor slaaptyd kan dit moeiliker maak om aan die slaap te raak.

Probeer om minstens ’n uur voor slaaptyd met sulke oefensessies klaar te maak. As jy in die aand wil oefen, oorweeg oefenprogramme met lae of matige intensiteit, soos joga.

Foto: iStock

Vermy kafeïen later in die dag:

Terwyl ’n koppie koffie of tee jou ’n hupstoot gedurende die dag kan gee, kan die gebruik van stimulante naby bedtyd met slaap inmeng. Kenners beveel aan dat alles wat kafeïen bevat – insluitend koffie, tee en energiedrankies – ten minste vier tot ses uur voor slaaptyd vermy moet word.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.