General
Vandag in die Nuus: 21 September 2022─── 18:09 Wed, 21 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 21 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die hoof van die Vrystaatse departement van onderwys is een van vyf verdagtes wat deur die Valke in hegtenis geneem is vir bedrog, diefstal en die oortreding van munisipale wette.
Humprey Tsoarelo Malakoane, wat ook die voormalige departementshoof van Sport, Kuns en Kultuur is, het Woensdag in die Welkom-landdroshof verskyn op die bogenoemde aanklagte - wat verband hou met die ANC se Winnie Mandela-museum.
Die beskuldigdes het na bewering tussen 2008 en 2012 meer as R700 000 vermors en gesteel, wat bedoel was vir die konstruksie van die museum.
Die Valke se provinsiale woordvoerder, Christopher Singo, sê die eenheid is tans op soek na nog verdagtes wat met die misdaad verbind word.
Die huidige groep verdagtes is intussen op borgtog van tussen R3 000 en R20 000 vrygelaat, en sal weer op 11 November voor dieselfde hof verskyn.
Staatsadvokaat Billy Downer wil hê oudpresident Jacob Zuma moet 'n bykomende R1 miljoen as sekuriteit vir koste stel voor sy private vervolging van Downer.
Zuma het regstappe teen Downer en News24-joernalis Karyn Maughan van stapel gestuur, en het glo reeds R90 000 by die Pietermaritzburg-landdroshof as sekuriteit inbetaal.
Maar, Downer het in dokumente wat in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien is, gesê dat R1 miljoen nodig is as voldoende sekuriteit om die waarskynlike koste te dek wat aangegaan kan word ten opsigte van sy verdediging in die private vervolging.
Eskom sê fase vyf-beurtkrag word voortgesit, hoewel dit moontlik teen môre met een fase verlaag kan word.
Die kragvoorsiener sê vier kragopwekkingseenhede is onlangs van die netwerk ontkoppel vir dringende herstelwerk.
Sewe eenhede is intussen weer by die netwerk ingeskakel.
Eskom sê hy het ook weer sy noodreserwes, soos diesel, aangevul waarvan hy die afgelope dae baie gebruik het.
Die kragvoorsiener het die publiek ook om verskoning gevra vir die voortdurende beurtkrag, maar voeg by dat hy dit slegs as laaste uitweg toepas.
Jaarlikse verbruikersinflasie het in Augustus tot 7,6% gedaal van 7,8% in Julie as gevolg van laer brandstofpryse. Marietjie Bennett, Direkteur: Prys Statistieke by Statistiek SA, gee 'n oorsig van die syfers.
LUISTER: