On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

General

Vandag in die Nuus: 9 September 2022

───   18:10 Fri, 09 Sep 2022

Vandag in die Nuus: 9 September 2022 | News Article
Koningin Elizabeth II (FOTO: royal.uk)

Hierdie is van jou hoofstories vandag, 9 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.

Die tradisionele eerste minister van die Zoeloe-koningshuis, Prins Mangosuthu Buthelezi het namens die Zoeloe-koningshuis medelye betuig met die afsterwe van Koningin Elizabeth gistermiddag in Balmoral in Skotland.

Buthelezi het die boodskap oorgedra namens Koning Mi-su-zulu Zwelithini en die res van die Zoeloe-koninklikes.

Buthelezi sê sy was ‘n ware en waardige monarg.

President Cyril Ramaphosa het saam met ander wêreldleiers ook sy medelye betuig met Koning Charles die Derde en die koninklike familie.


President Cyril Ramaphosa het uitstel gekry om antwoorde aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank te gee rakende die diefstal van buitelandse valuta op sy plaas in Limpopo.

Die president se woordvoerder, Vincent Magnwenya, het aan die SABC gesê Ramaphosa het nog 15 dae tyd om antwoorde te gee, nadat die spertyd tot 22 September verleng is.

Ramaphosa het na bewering versuim om twee jaar gelede die sentrale bank in te lig oor die groot bedrag buitelandse valuta wat hy ontvang het.


Fase 3-beurtkrag sal tot Maandagoggend 05:00 geïmplementeer word, het Eskom vanmiddag in 'n verklaring gesê.

Daarna word Fase 2-beurtkrag vir die res van die week - deurlopend - voorsien.

Nog vyf opwekkingseenhede het vanoggend onklaar geraak.

Die vertraging in die terugkeer tot diens van Koeberg Eenheid 2 het die kapasiteitstekorte vererger, het Eskom gesê.


Die waterbesnoeiings het nie net inwoners van die Mangaung Metro hoog en droog gelaat nie, maar sommige van die pasiënte van die Freedom Square kliniek in Bloemfontein beweer dat die meeste van die tyd wanneer wateronderbrekings geïmplementeer word, word die kliniek geraak, en daar dan verwag word dat werk soos normaalweg moet voortgaan.

OFM-nuus korrespondent, Mia-Leigh Cloete, berig die Vrystaatse Departement van Gesondheid sê onder normale omstandighede sien die plaaslike bestuur om na die administratiewe en infrastruktuur-ondersteunings-behoeftes van klinieke.


’n Noordwes-skoolleerling en sy pa bevind hulself in die moeilikheid met die gereg, nadat die seun na bewering ’n ander leerling aangerand het met 'n geweer wat glo aan sy pa behoort.

Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê die leerling het die vuurwapen na die Maquassi Hills Sekondêre Skool in Wolmaransstad geneem.

Hy voeg by twee sake van aanranding is Donderdag aanhangig gemaak, terwyl ’n saak van nalatige hantering van ’n vuurwapen teen die pa – ’n gelisensieerde vuurwapeneienaar – geopen is.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek na die saak duur voort.


LUISTER:

 


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.