General
Vandag in die Nuus: 6 September 2022─── 07:46 Wed, 07 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 6 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die polisie in Kanada sê een van die twee verdagtes wat Sondag tien mense doodgesteek en vyftien beseer het, is dood aangetref.
Reuters berig die liggaam van Damien Sanderson is in die Saskatchewan provinsie gevind.
Die aanvalle het op 13 verskillende plekke op dié inheemse gemeenskap en die nabygeleë dorpie Weldon voorgekom.
Dit is beskryf as een van die geweldadigste aanvalle in die onlangse geskiedenis van die provinsie.
Die polisie sê Sanderson het sigbare beserings gehad en dit blyk nie of dit self toegedien is nie.
Sy broer Myles Sanderson is nog op vrye voet.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het hofstukke ingedien om as ’n vriend van die hof in die Demokratiese Alliansie (DA) se saak teen kaderontplooiing toe te tree.
Volgens Reiner Duvenage veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum, is daar ’n aantal regsgronde waarom kaderontplooiing deur die hof verbied moet word.
Altesaam 160 nuut aangestelde veiligheidspersoneel by die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat is amptelik deur die uitvoerende burgemeester, Thanduxolo Khalipha, verwelkom.
Luidens ’n verklaring wat vroeër uitgereik is, vorm die aanstelling van die veiligheidsbeamptes deel van die munisipaliteit se pogings om werk te skep, en die munisipaliteit se bates en hulpbronne te beskerm.
Matjhabeng was onlangs in die kollig weens swak dienslewering.
Die voormalige hoof finansiële beampte vir die Bloemfonteinse kragvoorsiener – Centlec – beoog om haar vonnis deur die Vrystaatse hooggeregshof te betwis.
Hlonelwa Nkomo wil hê haar drie maande opgeskorte vonnis moet herroep en tersyde gestel word.
Regter Joseph Mhlambi het in Augustus 2022 Nkomo met 'n drie maande opgeskorte vonnis opgelê, nadat bevind is dat sy skuldig was aan minagting van die hof.
Nkomo sê intussen sy glo 'n ander hooggeregshof sal tot 'n ander gevolgtrekking oor die saak kom.
Die Noordwes plaaslike regering, wat al die afgelope vier jaar ingryping deur die nasionale regering vereis, het belowe om goeie finansiële bestuur te herstel.
Dit volg nadat die kantoor van die premier, Bushy Maape, ongekwalifiseerde oudits ontvang het ná die vrystelling van die 2020/21-ouditresultate.
Maape sê sy kantoor het kapasiteit oor departemente heen geskep om voorsienings-ketting-bestuur te versterk.
Hy voeg by provinsiale departemente is ook heropgestel om aan nasionale norme en standaarde te voldoen.
LUISTER: