On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Entertainment

Kom raak nostalgies by Bloem Familietrekkerfees

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:47 Thu, 03 Oct 2024

Kom raak nostalgies by Bloem Familietrekkerfees | News Article
Die Bloem Familietrekkerfees. Foto verskaf

“Een van ons grootste doelwitte is om nostalgie vir die mense terug te bring. Ons wil hê die mense moet sien en voel hoe dinge in daardie dae was, om die klank en reuk van daardie enjins te onthou.”

Dit gaan ’n dag van geraas en stoom wees by ’n fees vir oud en jonk, wat op 26 Oktober in Bloemfontein plaasvind.

Die Bloem Familietrekkerfees, nou in sy twaalfde jaar, gee aan entoesiastiese jong mense van die stad ’n opwindende platform om hul gerestoureerde enjins ten toon te stel, sê Rudie Herbst, een van die geleentheid se organiseerders.

Die fees, wat deur die Sentraal-Vrystaat-veteraneklub aangebied word, is deel van hul missie om die publiek oor die ou trekkers en masjiene van die verlede op te voed. “Ons wil elke jaar demonstreer hoe hierdie vintage-trekkers eens geploeg het, hoe die enjins gebrul het, pompe aangedryf en energie opgewek het,” vertel Herbst.

Een van die ou masjiene by die Bloem Familietrekkerfees. Foto verskaf

“Een van ons grootste doelwitte is om nostalgie vir die mense terug te bring. Ons wil hê die mense moet sien en voel hoe dinge in daardie dae was, om die klank en reuk van daardie enjins te onthou, miskien herinneringe te onthou van hul oupa, oom of pa wat sulke trekkers bestuur het.

“Dit is ons missie om daardie nostalgie lewendig te maak en mense te wys hoe hierdie masjiene werk.”

Herbts sê dit is lekker om te sien hoe mense elke jaar bymekaarkom en opgewonde raak oor dinge wat hulle nie sedert hul kinderdae gesien het nie.

Die Bloem Familietrekkerfees is ’n heerlike geleentheid vir alle ouderdomme, waar feesgangers kan uitsien na trekkerparades, smiddemonstrasies, en ’n groot vertoning van stoomenjins en antieke masjinerie –insluitend ’n vliegtuigenjin!

“Een van die hoogtepunte van die dag is die Kabouterbraai waar die jonger skare hul braaivaardighede ten toon stel, asook ’n skattejag.”

Baie praktiese demonstrasies sal ook gehou word, soos mieliegedros, meel maal, skaapskeer en botter maak, wat besoekers ’n voorsmakie bied van hoe dinge in die ou dae gedoen is.

Feesgangers kan uitsien na ’n groot vertoning van stoomenjins en antieke masjinerie. Foto verskaf

In Junie vanjaar het die klub ’n spesiale geleentheid by die Ferreira Trekkermuseum genaamd “My Storie-enjin” aangebied. Jong mense het die geleentheid gehad om stories te deel van die enjins wat hulle opgeknap het.

“Anders as vorige jare was dit nie ’n kompetisie nie, maar ’n opvoedkundige ervaring vir die jeug om te leer hoe om enjins te bou en te restoureer, en hul unieke stories te vertel,” sê Herbts.

Musiek deur Daniel Wesley sal die skare deur die loop van die dag vermaak en daar sal ook boeresport en ‘toutrek teen ’n trekker’ wees.

Praktiese demonstrasies sal ook gehou word, soos mieliegedros en meel maal. Foto verskaf

Die hekke na die Bloem Familietrekkerfees, geleë by Speserylaan in Quaggafontein, open om 08:00. Toegang is R40, met kinderkaartjies beskikbaar teen R10.

Vir meer inligting, kontak Rudie Herbst by 082-815-1727 of Jaco Wentzel by 079-892-1265.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.