On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Entertainment

Germandt Geldenhuys gesels as deel van die 'Bestes' – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:08 Fri, 05 Jul 2024

Germandt Geldenhuys gesels as deel van die 'Bestes' – VIDEO | News Article
Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys. Foto verskaf

“Ek dink die diversiteit van ons stemme is wat ons so goed saam laat klink.”

Hy is die nuuste en jongste lid van die gewilde groep Drie van die Bestes wat hierdie jaar hul debuut by die Vryfees Kunstefees maak wanneer dié groep vir die eerste keer in Bloemfontein optree.


Dis nou al twee jaar sedert Danie Niehaus hom gevra het of hy sou belangstel om by hulle aan te sluit,” vertel Germandt Geldenhuys. Kevin Leo was oorspronklik deel van die trio, maar het na Panama verhuis.

Die trio het vroëer vanjaar hul eerste optrede in Reitz in die Vrystaat gehad, Mathys Roets, ook ’n lid van die groep, se tuisdorp.

Drie van die Bestes hou Saterdag konsert in Bloemfontein. Foto verskaf

Geldenhuys sal Sondag vir die eerste keer in Bloemfontein die verhoog met Niehaus en Roets deel en is baie opgewonde om in die Rosestad te kom kuier.

“Ek is ’n Vrystater in murg en been en het in die Oos Vrystaat op die klein dorpie, Ladybrand, grootgeword. Dit voel amper of ek weer huis toe gaan en uit ondervinding weet ek die mense van die Vrystaat is gaaf.”

Niehaus, Roets en Geldenhuys volg elk hul eie loopbaan, maar kom af en toe bymekaar om musiek te maak. Hulle neem bekende liedjies op en voer dit op nuwe maniere uit en sing in harmonie.

Danie Niehaus, Mathys Roets en Germandt Geldenhuys. Foto verskaf

“Ek en Danie het in 2019 saam konserte begin hou,” sê Geldenhuys. “Ons het ontmoet by ’n liefdadigheidsgeleentheid vir die Pionierskool vir siggestremdes.

“Ons het  goed oor die weg gekom en hy het my toe genooi om ’n konsert saam met hom by die Atterbury-teater te doen, en vandaar het ons het op verskeie plekke in die land begin optree.”

Dis vir hom ’n voorreg om saam met Danie en Matthys te werk, wat hy onderskeidelik ses en twee jaar lank ken, vertel Geldenhuys, wat ook bekend is vir sy rol as Louis Koster in Binnelanders.

‘Ek is geëerd om die verhoog met hulle te deel’

“Albei van hulle is legendes in die Afrikaanse musiekbedryf en ek is ongelooflik geëerd om gereeld die verhoog met hulle te deel. Hulle is ook baie gawe mense. Ons kan vir ure sit en gesels oor enigiets en alles, die wêreld se probleme oplos in een gesprek.

“Dan sal iemand uit die bloute begin sing en die ander twee sal harmoniseer.” Hy sê sy eerste CD was ’n getekende een van Mathys.

Geldenhuys sien baie uit na hul eerste vertoning in Bloemfontein en beloof  'n prettige vertoning met ’n paar nuwe items wat mense dalk sal herken, maar met ’n kinkel.

‘Ons het almal ’n sin vir humor’

Hy glo die sukses van hul samewerking lê in hul uiteenlopende stemme. “Ek dink die diversiteit van ons stemme is wat ons so goed saam laat klink. Matthys het ’n diep basstem, Danie het ’n baritonstem met ’n rock-ondertoon, en ek is ’n tenoor met ’n mengsel van klassieke, gospel en pop-invloede. Daarom werk dit so goed.”

Feesgangers wat die Drie van die Bestes-vertoning bywoon, kan drie unieke stemme verwag met bietjie pret en lawwigheid tussenin. “Ons het almal ’n sin vir humor en vang soms snaakse goed op die verhoog aan. Ek hoop mense sal terugsit, die vertoning geniet, en die vertoning met ’n hernude waardering vir pragtige musiek verlaat.”

Hy verseker die vertonings is nie net vir klassieke of kontemporêre musiekliefhebbers nie. “Daar is ’n bietjie van alles, van klassiek tot rock, ballades, volksmusiek en pop. Die magic gebeur regtig wanneer ons al drie saam sing, veral a cappella, wanneer ons in harmonie met mekaar is.”

OFM Nuus dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.