Entertainment
7de Laan: Aanhangers beplan vreedsame betoging by SAUK-hoofkantoor─── TSHEHLA KOTELI 10:53 Thu, 21 Sep 2023
"Al wat 7de Laan kan red is as sy kykergetalle verdubbel en sy produksieonkoste verminder."
Die 7delaan My Nou Amptelik groep beplan om op 28 September by die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park te betoog. Hulle is omgekrap omdat die SAUK die Afrikaanse sepie wil kanselleer.
Joel Wilson, lid van die groep, sê hulle glo die openbare uitsaaier moet die sepie vir nog ’n seisoen uitsaai. “7de Laan is die sepie wat die meeste op SABC 2 gekyk word en daarom moet dit steeds vir die 25ste seisoen uitgesaai word.” Meer as 37 800 mense het al hul petisie geteken maar hul doelwit is 50 000 handtekeninge.
“Ons het Okosa, die NVG en die openbare beskermer genader waarin ons in detail verduidelik hoe die kansellasie van 7de Laan Afrikaans een kant toe skuif.” Die groep sal saam met die GOOD party werk aan die vreedsame protes.
Destyds toe die sepie vir drie dae per week uitgesaai was het kykers ook hul misnoeë te kenne gegee. “Ons het ook na korporatiewe borge uitgereik om in 7de Laan te belê weens die SAUK se finansiële probleme.”
Caroline Phalakatshela, woordvoerder van SABC 2, sê om die sepie te red sal ’n groot ommeswaai verg. Sy sê die besluit om dit te kanselleer is ’n sakebesluit gegrond op die swakker kykergetalle en die finansiële posisie van die SAUK.
"Al wat die sepie kan red is as sy kykergetalle verdubbel en sy produksieonkoste verminder. Die SAUK hou die situasie al jare dop en verwag nie dat die situasie sal verander nie wat beteken die sepie sal in Desember eindig."
7de Laan het in 2000 begin en het al 5 639 episodes uitgesaai.