On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde van Bloemfontein in hof verwag ná beweerde moord op seun

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:01 Tue, 22 Apr 2025

Bejaarde van Bloemfontein in hof verwag ná beweerde moord op seun | News Article
Erich Bruhns. Foto verskaf

’n Bejaarde van die Vrystaat wat na bewering sy seun ná ’n rusie doodgeskiet het, sal na verwagting Dinsdag (22/4) in die hof verskyn.

Die beskuldigde (85) het na bewering sy seun, Erich Bruhns (56), Saterdagoggend (19/4) in die nek geskiet. Erich is twee dae later in die hospitaal aan sy beserings dood.

Bruhns, wat die afgelope vyf jaar in ’n verhouding met Amelia Hattingh was, het in Bainsvlei buite Bloemfontein gewoon, terwyl Bruhns se pa in ’n aparte huis op dieselfde erf gewoon het.

Die aanloop tot die skietery het Woensdag begin toe Hattingh en Bruhns gereël het dat ’n helper die bejaarde man se huis skoonmaak, wat volgens haar in ’n swak toestand was. “Die oom het geïrriteerd geraak omdat die skoonmaker te lank vat en vir Erich gesê sy moet klaarmaak. Erich het aan sy pa verduidelik dat die huis baie vuil was en behoorlik skoongemaak moes word.”

Erich Bruhs. Foto: Facebook

Volgens Hattingh het Bruhns en sy pa stry gekry. “Hulle het naby ’n groot sementgat op die eiendom gestaan waar hulle besig was om te bou. Erich se pa het hom gestamp en Erich het hom gegryp – anders sou hy in die gat geval het. Die oom het geval en sy kop en vinger beseer.”

Spanning het toegeneem toe die pa na die polisiekantoor gegaan het om ’n klag van aanranding teen Bruhns aanhangig te maak. “Ek het ook na die polisie gegaan en ons het woorde gehad. Ek het vir hom gesê Erich het hom nie doelbewus seergemaak nie, waarna hy gesê het hy sal Erich doodskiet,” beweer Hattingh.

Sou elders huisvesting vir bejaarde pa reël

Volgens haar het die polisie haar gevra om die polisiekantoor te verlaat en gesê hulle moet die bejaarde man beskerm. “Die polisie het ’n verklaring by die huis kom afneem, en Erich het vir hulle gesê sy pa het ’n geweer in sy kas en het gedreig om hom te skiet.

“Hulle het gesê hulle kan nie die wapen vat nie en dat ander beamptes dit sal kom haal. Hulle het nooit gekom nie,” sê sy.

Hattingh en Bruhns was van plan om elders huisvesting vir sy bejaarde pa te reël uit vrees vir hul veiligheid.

Amelia Hattingh. Foto: Facebook

Volgens Hattingh was sy en Bruhns van plan om Saterdagoggend Clarens toe te gaan. “Terwyl ons besig was om ’n paar goed by die bakkie bymekaar te maak, het ons omgedraai en gesien hoe sy pa daar staan met ’n geweer. 

“Sonder waarskuwing het hy Erich in die nek geskiet,” beweer sy.

Bruhns is na die hospitaal gehaas, maar het Maandag aan sy beserings beswyk. Die bejaarde man staan nou tereg op ’n aanklag van moord.

Ten spyte van die voorval Woensdag, vertel Amelia dat Bruhns se pa daagliks om 18:00 by hulle kom eet het. Bruhns se ma is drie jaar gelede oorlede.

Vlug van toneel

Sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy van die toneel gevlug het. “Tydens sy inhegtenisneming naby die N1-hoofweg het die polisie beslag gelê op ’n gelaaide vuurwapen en ekstra ammunisie,” het Kareli gesê.

Die bejaarde is tans in aanhouding, en die polisie ondersoek ’n moordklag.

Bruhns laat twee seuns en ’n dogter agter.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.