Central SA
Asbesrommel by Bloemfonteinse hospitaal hou gevaar in─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:37 Tue, 22 Apr 2025

’n Skriftelike versoek is by die Vrystaatse wetgewer ingedien vir ’n besoek aan ’n hospitaal waar gevaarlike asbesrommel ’n ernstige veiligheidsrisiko inhou.
Die DA vra die portefeuljekomitee moet ’n oorsigbesoek aan die Nasionale Distrikhospitaal in Bloemfontein bring, sê David Masoeu, DA-gesondheidswoordvoerder. “Ons eis antwoorde van die LUR vir openbare werke en ’n vaste verbintenis van die departement om die asbesrommel te verwyder.”
Die heining rondom die hospitaal, naby vervalle geboue, word deur indringers gevandaliseer is, sê hy. “Hierdie individue kry toegang tot die perseel, steel eiendom wat asbes bevat, en versprei die rommel deur nabygeleë woongebiede. Dit skep ’n ernstige gesondheidsgevaar vir inwoners.”
Masoeu sê die gemeenskap het reeds talle straatvergaderings gehou om oor die beskadigde heining en asbesrommel van die vervalle gebou te kla.
Departement van gesondheid glo verantwoordelik
“Die DA is bekommerd oor die departement van openbare werke wat versuim om te reageer op vrae oor sy onvermoë om die gevaarlike rommel te verwyder ná die sloping van sekere geboue op die hospitaalterrein.”
Mangaung-DA-rdl. Hennie van Niekerk het die kwessie aanvanklik onder die aandag van die hospitaal se uitvoerende hoof gebring. “Ná verskeie vrugtelose vergaderings het Van Niekerk die saak na die provinsiale wetgewer geëskaleer en dringende ingryping versoek. Ingevolge standaardprosedure het die wetgewer navrae aan die LUR’e vir gesondheid en openbare werke gerig.”
Nalatigheid ná sloping van twee leegstaande geboue
Hy sê die situasie spruit uit die departement van openbare werke en infrastruktuur se nalatigheid ná sy sloping van twee leegstaande geboue op die hospitaalterrein wat asbes bevat het.
Volgens Masoeu was die departement van openbare werke se reaksie dat die departement van gesondheid verantwoordelik is vir die Nasionale Distrikhospitaal en dat hy nie bewus was dat die geboue gesloop is nie.
“Hierdie reaksie beklemtoon die blote nalatigheid van die department. Selfs die departement se eie webwerf sê dat Gesondheid sy kliënt is en dat Openbare Werke en Infrastruktuur verantwoordelik is om sy kliënte te diens.”
OFM Nuus cg