Central SA
Van Vrystaatse kaalvoet-rugbyseun tot nasionale uitsaaier─── 10:52 Tue, 22 Apr 2025

Van ’n kaalvoet-kannetjie op Petrus Steyn wat rugby speel tot een van Suid-Afrika se ervare rugbykommentators.
John van Rensburg het op ’n dag by Petrus Steyn in die Riemland ingedraai, in die middel van die Gert Heyns-sportterein se veld gaan staan en vir homself gesê: Jy moet nooit vergeet waar jy vandaan gekom het nie. Dit het hiér begin.
Kaalvoet-rugby op sy beste en later, nog op hoërskool, ook wedstryde vir die Petrus Steynse dorpspan. Losskakel, vinnig en skerp. Van Rensburg is vandag ’n gewilde Afrikaanse rugby-uitsaaier met ’n rekordgetal van 156 Springboktoetse agter sy naam.
John (heel regs, voor) in die eerste span van die J.A. Malherbe Hoërskool (1973) in Petrus Steyn. Die afrigter is Nas Olivier. Foto verskaf
Van Rensburg se liefde en passie vir rugby kom van ver. As ’n seuntjie het hy begin plakboeke maak oor die Springbokke en vir hulle briewe geskryf om vir hul handtekening te vra.
Hy het nie ’n rugbywedstryd oor die radio misgeloop nie en hom in elke wedstryd ingeleef. Wanneer hy self rugby gespeel het, het hy hom verbeel hy is Mannetjies Roux. Oom Flippie van der Wath, bestuurder van die Handelshuis op Petrus Steyn, het hom selfs 25c betaal vir elke keer wanneer hy Mannetjies se beroemde duikslag uitgevoer het.
Hy het in st. 9 en 10 skelm vir die dorpspan begin speel: soggens vir die skool en smiddae vir die dorp. Hy het sy hart uitgespeel. Sy pa wou nie hê hy moes vir die dorp speel nie omdat hy deur die groter manne “gebreek” kon word. Sy ma het geweet hy speel skelm.
Embleem van Petrus Steyn se dorpspan in die 1970’s. Foto verskaf
Êrens in sy matriekjaar het sy pa gaan kyk hoe die dorpspan speel en was die geheim op die lappe. Met sy pa onder die toeskouers was Van Rensburg senuweeagtig en het gedink sy pa gaan hom van die veld af kom haal. En daardie dag druk hy sowaar ’n drie.
Ná die wedstryd kom sy pa aangestap en vra: “En wat de duiwel dink jy doen jy?” Van Rensburg vertel hy kon egter die trots op sy pa se gesig sien wat hom toegelaat het om die seisoen klaar te maak met die vermaning dat hy versigtig moes speel.
“Ek was onlangs baie emosioneel toe my binnesenter van my Petrus Steyn-dae, Bennie van Eeden, ’n boer van Edenville, vir my rugbymuseum sy trui en baadjie van Petrus Steyn se dorpsklub geskenk het.
John saam met ’n goeie vriend – die oud-Springbok Uli Schmidt. Foto verskaf
“As skoolseun kon ek nie ’n trui en baadjie kry nie. Bennie het nog lank vir die dorp gespeel. Ek wens my pa kon dit beleef het. Ek salueer Bennie: Hy sal altyd my binnesenter en vriend wees.”
As jong Petrus Steynse skoolseun het hy ook graag krieket en rugby in erwe of in die straat gespeel. In Besterstraat, waar hy en sy ouers gewoon het, was buurmaats waarvan die skrywer van hierdie berig ook een was, sportief en verbeeldingryk.
Wanneer rugby gespeel word, mag die seuns nie die meisies duik nie en daar is hartlik gestry oor wie op daardie dag watter Springbok kon wees. Dit was nie onderhandelbaar nie dat net Van Rensburg die Mannetjies Roux-speler sou wees.
Trui van Petrus Steyn se dorpspan in die 1970’s. Foto verskaf
Hy is in Bloemfontein gebore; ’n Vrystater in murg en been. Ná skool het hy ’n regsgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal en 40 jaar as prokureur gepraktiseer. Hy het sy werk baie geniet en is ná aftrede steeds as regskonsultant werksaam.
Uit sy eerste huwelik is drie seuns en ’n dogter gebore op wie hy trots is. Hy is die afgelope jare met Sonja, ’n skoolhoof, getroud. Sy is 53 en hy amper 70, maar die ouderdomsverskil pla glad nie.
Sy hardloop ongelukkig onder hom uit wanneer hulle saam aan padwedlope deelneem. Hulle is sielsgenote en sy is sy grootste motiveerder en ondersteuner.
John van Rensburg en sy vrou, Sonja. Foto verskaf
Van wedlope gepraat: Van Rensburg het 27 Comrades-marathons voltooi en sy beste tyd was 7 uur en 40 minute. Ja, hy hét darem nog knieë oor. Wat deelname aan die Comrades hom geleer het, is om gesond en fiks te wees – dis ’n groot dissipline om na te leef. Hy en Sonja neem elke Saterdag wat hulle kan aan 21 of 10 km-wedlope deel.
As hy nie die land of wêreld vol reis vir uitsaaiwerk nie, bring hy tyd aan huis by sy rugbymuseum deur. Dit is die grootste privaat rugbymuseum in Suid-Afrika en dit klink of dalk net die slaapkamer, badkamer en kombuis van sy tuiste nié museum is nie. Dis ’n waardevolle uitstalling van memorabilia en daar is 2 000 truie, waarvan baie van beroemde Springbokke is.
Hy tree ook landwyd as motiveringspreker op. Hy praat oor sy leuse: Drome word waar, en probeer mense inspireer om na hoogtes te streef.
John van Rensburg, rugby-uitsaaier, het die grootste privaat rugbymuseum in Suid-Afrika. Foto verskaf
Sy pad na rugby-uitsaaiery klink soos ’n sprokie en dit was waarlik vir hom bestem, sê Van Rensburg. Hy het in 1987 aan ’n algemene vasvrae oor rugby oor die destydse Radio Suid-Afrika deelgeneem met Heinrich Marnitz as aanbieder. Hy het groot name soos die sportskrywer Joe Venter en Jurgens uitgestof.
Die prys was ’n vliegtuigkaartjie na die Curriebeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie op Nuweland. Hy vlieg toe saam met Marnitz af Kaap toe vir sy heel eerste besoek aan Nuweland.
Marnitz wou weet of hy in radiowerk sou belangstel. Van 1988 tot 1992 was hy elke aand om 18:10 die aanbieder van Sportjoernaal oor die Afrikaanse radiodiens. Hy is gou na wedstryde gestuur vir kommentaar en verslag, maar mag net nie uitgesaai het nie.
Uitsaaiwedstryde vir Topsport TV volg
So beland Van Rensburg op Olënpark in Potchefstroom vir die Lionbeker se eindstryd in 1989 tussen die Vrystaat en Wes-Transvaal. In dié belangrike wedstryd was die einde spannend en hy begin toe sommer die laaste 10 minute uitsaai, sonder Marnitz se toestemming. Hy was bevoorreg om Jan du Toit se wendrie vir die Vrystaat uit te saai.
Marnitz was tevrede. Daarna het uitsaaiwedstryde vir Topsport TV gevolg, wat eindelik by SuperSport beland het.
“My eerste uitsaaiwedstryd vir televisie was 90 minute van hel! Ek onthou die regisseur was Scott Steward. Ek het byna van my stoel afgeval toe Gert Roets van Supersport my op ’n dag bel en sê: ‘Jy saai Saterdag die Lionbeker se finaal uit tussen Natal en Noord-Transvaal. Ek het van 1992 net TV-werk vir SuperSport gedoen.
Frankryk toe vir Springbokke se wedstryd in Lyon
“Die grootste geleentheid was toe Barry Lambert my op ’n dag bel en sê hulle wil my Frankryk toe stuur vir die Springbokke en die Franse se wedstryd in Lyon. En daarna het ek ’n kontrak gekry en saai nou al 33 jaar uit vir SuperSport. Dit sluit sewe Boktoere en vier Wêreldbekers in.”
Van Rensburg se absolute hoogtepunt was toe Suid-Afrika in 2007 teen Engeland in Parys speel en die Wêreldbekertoernooi wen. “Ek het in trane uitgebars omdat hierdie klein outjie van Petrus Steyn in die Riemland vandag hier is om dit te beleef. Kobus Wiese moes oorneem.”
Van Rensburg het al die wêreldrugbylande besoek en sê rugby was vir hom net goed. Om uit te saai verg baie voorbereiding, want ’n uitsaaier moet deeglike navorsing oor spelers doen, soms moeilike uitsprake van name en vanne onder die knie kry en weet wanneer jy vir die televisie uitsaai, moet jy dit slim doen, want die kykers kyk saam.
‘Moet nooit ’n windbol wees wanneer jy uitsaai nie’
Dan is dit ook so dat ’n mens objektief moet uitsaai; jy mag nie jou gunstelingspan verklap nie. Daar sal altyd kritiek wees, maar opbouende terugvoering is welkom en help ’n mens om as uitsaaier te groei. Jy moet ook kyk waar dit vandaan kom.
Gerhard (Spiekeries) Viviers, Van Rensburg se rolmodel, het gesê ’n mens moet nooit ’n windbol wees wanneer jy uitsaai nie. Jy is nie die belangrikste nie. Moenie verlief raak op jou mikrofoon nie.
As die Springbokke wen of verloor, maar veral wen, bepaal dit die gemoed van ’n land. Sport is nie net fantastiese afleiding nie, maar bring soveel mense en vriende bymekaar. Rugby is ’n nasiebouer.
‘Rugby was vir my net goed’
“Ek is lief vir mense en rugby was vir my net goed. Die tyd gaan verby, kyk ek terug, is ek so dankbaar vir die goeie lewe wat ek gehad het. ’n Mens moet onthou dat voorregte nie regte is nie.
“Een van my voorregte is dat ek op ’n dorp soos Petrus Steyn kon grootword met goeie beginsels en dissipline en dat drome vir my waar geword het. Ek is dankbaar en geseënd.
“’n Mens moet nooit ophou droom nie, want drome word waar.”