Central SA
Geen bewyse van sangoma in NWU-koshuis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:01 Tue, 22 Apr 2025

Hoewel in ’n formele ondersoek geen bewyse gevind kon word dat ’n sangoma in ’n koshuis van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus was nie, word versoek dat die verslag gedeel word sodat besluit kan word oor moontlike opvolgstappe.
AfriForum Jeug sal ook weer met die student van die NWU-koshuis praat wat ná die voorval na hulle uitgereik het.
Volgens die NWU het sy interne ondersoek geen bewys opgelewer dat ’n sangoma Sondagaand 13 April die Eikenhof-vrouekoshuis binnegekom het nie, en ook nie dat enige kulturele ritueel in dié tyd plaasgevind het nie.
LEES OOK: Formele ondersoek geëis ná sangoma-ritueel aan NWU
AfriForum Jeug handhaaf egter sy standpunt dat ’n tradisionele genesingseremonie omstreeks 22:10 plaasgevind het, wat na bewering voorvaderlike gebede behels het en waartydens “ontstellende gille” gehoor kon word.
Yvonne Gerber van AfriForum Jeug het vroeër gesê dat die gerapporteerde ritueel op ’n inwoner in ’n kamer in die koshuis uitgevoer is, wat geestelike aanroepings en tradisionele praktyke wat met sangomas gekoppel is, behels. Klank- en videogrepe, wat na bewering deur ander inwoners opgeneem is, is met die organisasie gedeel, waarin die gille – wat glo van die betrokke student kom – gehoor kan word.
In reaksie hierop het prof. Marlene Verhoef, die NWU se registrateur, bevestig dat die universiteit die verslae ernstig opgeneem het en die uitslag van die ondersoek formeel skriftelik aan AfriForum Jeug gekommunikeer het.
‘Breër verbintenis tot respek vir godsdienstige en kulturele diversiteit’
AfriForum erken hy het die universiteit se brief ontvang, maar kritiseer die korrespondensie omdat dit slegs die finale bevinding bevat en nie ’n volledige, gedetailleerde verslag nie. “Die bevinding is teenstrydig met die inligting en materiaal wat ons van inwoners van die koshuis ontvang het,” sê Gerber.
Die universiteit het sedertdien sy breër verbintenis tot respek vir godsdienstige en kulturele diversiteit op kampus herhaal. Verhoef beklemtoon dat die NWU se inklusiewe beleid alle aspekte van studente-identiteit omvat, insluitend kulturele en geestelike praktyke, mits dit strook met universiteitsbeleide en die wette van die land.
’n Raamwerk word ontwikkel om die toepaslike gebruik van kampusgeriewe vir godsdienstige en geestelike aktiwiteite te rig.
In die lig van kommer wat geopper is oor die emosionele uitwerking van die voorval, het die NWU ook die beskikbaarheid van sielkundige en emosionele ondersteuningsdienste uitgelig. Dit sluit in die Thuso- psigososiale ondersteuningseenheid, die Studenteraad vir Maatskaplike Dienste en ’n netwerk opgeleide portuurondersteuners en koshuispersoneel.
“Waar nodig, kan die universiteit ook noodintervensies en groepondervragingsessies fasiliteer,” sê Verhoef.
Sy sê die universiteit erken die belang van kulturele en spirituele uitdrukking en beywer hul daarvoor om ’n omgewing te skep waar alle studente met respek en gelykheid behandel word.
OFM Nuus mvh